Die gier om mense te verkul, is so oud as wat mense handel dryf. Argeoloë het langs die nuut ontdekte pelgrimspad wat tussen die Siloambad en die tempel aangelê is, ’n klein gewiggie ontdek wat deur handelaars gebruik is om hul klante te verkul.

Die gewiggie is in die noordelike deel van die ou Stad van Dawid gevind en dateer uit ongeveer 589 vC. Dit is die Eerste Tempeltydperk van die tempel in Jerusalem, oftewel Salomo se tempel.

Die gewiggie is uit sandsteen gevorm. (Sien foto, © 2021, Eliyahu Yanai, City of David.) Aan die bokant daarvan is twee strepies aangebring wat bedoel is om die gewigsmate daarvan as twee gera aan te dui. Die gera is een van die kleinste gewiggies wat in die Koninkryk van Juda en veral aan die einde van die Eerste Tempeltydperk in gebruik was. In Eksodus 30: 13 (AFR2020) word verduidelik dat één sikkel twintig gera werd is.

Die grootte van die gewiggie is 14 mm in deursnee en 12 mm hoog. Dié gewiggie is slegs die tweede van sy soort wat in Israel gevind is. Die gewig daarvan word op die steentjie aangedui as ’n skaalgewig van twee gera, wat gelyk is aan 0,944 gram. Dié gewigsmaat is egter nie wat die werklike gewig van die gewiggie is nie. Die werklike gewig van dié steentjie is 3,61 gram. Dus, meer as drie keer meer as wat op die steentjie aangedui word.

Volgens Eli Shukron en Hagai Cohen, albei hoogleraars verbonde aan die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem, is die enigste verduideliking vir die verskil van die gewiggie dat die steentjie gebruik is om mense te verkul met die koop of verkoop van produkte. Dié gewiggie werp heelwat lig op die soort wanpraktyke wat destyds in die handel en ekonomie bestaan het. Daar was eerlike handelaars, maar ook oneerlike handelaars. Dié gewiggie wys één metode uit waarvolgens handelaars oneerlik sake gedoen het.

Die Bybel oor oneerlike handel

Die slenter om kopers met transaksies te bedrieg, is ’n ou streek wat onder handelaars voorgekom het gedurende die Bybelse tyd. Tydens kooptransaksies het die handelaars ’n sak by hulle gehad waarin egte en onegte gewigte gehou is. Wanneer hulle produkte aan die klante verkoop het, het hulle die vals gewiggie uitgehaal en dit op die weegskaal gebruik. Die niksvermoedende klant het dan drie keer meer vir die produk betaal as wat hy veronderstel was om te doen. Dié soort handeldrywing het natuurlik aan bedrog gegrens.

Die ander kant is ook moontlik. Wanneer ’n oneerlike handelaar iets in silwer of goud aankoop, kan hy die swaarder gewiggie op die skaal plaas. Dan betaal hy byvoorbeeld net twee gram vir iets wat ses gram werd is.

Dié saak is as só ernstig beskou dat in die Bybel selfs vermanings gegee is en bepalings gemaak is om sulke bedrieglike praktyke te verbied. Dié vermanings en bepalings staan selfs in die Naam van die HERE geskryf. Die bedoeling daarmee om die Naam van die HERE by hierdie voorskrifte te betrek, is dat die volk moes weet dat enige uitbuiting van mense as ’n uiters ernstige oortreding beskou moes word en in stryd met die regverdige wil van God is.

  • In Deuteronomium 25: 13-16 (AFR2020) word byvoorbeeld baie ernstig gemaan: Jy mag nie in jou sak verskillende gewigte, swares en ligtes hê nie. Jy mag ook nie in jou huis verskillende efas, ’n groter en ’n kleiner een, hê nie. Die gewigte wat jy gebruik, moet eg en reg wees; die efa (= 22 liter) wat jy gebruik, moet ook eg en reg wees, sodat jy lank kan leef op die grond wat die HERE jou God vir jou gaan gee. Ja, elkeen wat oneerlik optree, wat sulke dinge doen, is vir die HERE jou God afstootlik.
  • In die wysheidsliteratuur staan ’n soortgelyke vermaning geskryf: Twee soorte gewigte is vir die HERE afstootlik, en ’n vals weegskaal is nie goed nie (Spr 20: 23).
  • Hierdie vermaning kom ook in die bepalings van Levitikus 19: 36 voor: Julle moet ’n onvervalste weegskaal, onvervalste gewigte, ’n onvervalste efa en ’n onvervalste hin (= 3,8 liter) hê. Ek is die HERE jou God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het.

Die ontdekking van hierdie misleidende gewiggie werp natuurlik groot lig op die Bybeltekste waarin na bedrieglike handelsmetodes verwys word. Dit bring egter opnuut die besef dat daar gedurende die Bybelse tyd eerlike handelaars was, maar dat daar onder hulle ook maar skelms was.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)