Te midde van die vurige debatte wat die afgelope jare op die verskillende forums van die NHKA woed, word een saak telkens weer duidelik: Ongeag of dit ’n morel-etiese saak is, ’n saak rondom die kerk se profetiese stem in die samelewing, die inrigting van die liturgie in die erediens, of selfs hoe die barmhartigheidstaak van die diakonaat daaruit behoort te sien, ons bevind ons spoedig weer in ’n debat wat neerkom op Skrifverstaan en Skrifhantering. Uiteindelik kan ons tot geen ander gevolgtrekking kom nie as dat Skrifverstaan in die NHKA nie so ’n klinkklaar homogene saak is as wat ons gedink het nie. Indien dit so was, sou uitsprake soos Maar die Bybel sê uitdruklik… of Jesus het dan geleer… of Paulus skryf in Efesiërs… nie op Algemene Kerkvergaderings gehoor word nie. Dit is daarom hoog tyd dat daar ernstig besin word oor Skrifbeskouing in die NHKA.

Die onbedoelde nadraai van die Reformasie wat aan elke gelowige ’n Bybel in sy of haar eie taal gegee het, was dat daar nou ’n ooraanbod van leunstoelteoloë is en elkeen wat Afrikaans kan lees, is van mening dat hy of sy ’n legitieme interpretasie van ’n Bybelteks kan aanbied. Daar word te maklik vergeet dat Afrikaans nie die brontaal van die Ou of die Nuwe Testament was nie en dat grondige eksegese juis by filologiese studie en die wetenskap van tekskritiek begin. Die aksent op die belangrikheid van die brontale was na my mening altyd iets wat in die NHKA ononderhandelbaar was. Die lees van die Grieks en die Hebreeus toon die “nate” van die redaksiekritiek in die teks aan. Tog is daar predikante in die NHKA wat, sonder om daaroor verleë te wees, sal erken dat hulle nie onlangs na die brontale gekyk het nie. Dit is myns insiens waar die teologiese verarming in die NHKA begin.

Ek beskou myself allereers as Bybelwetenskaplike en dan as teoloog, omdat laasgenoemde sonder eersgenoemde vir my ’n persoonlike onmoontlikheid is. Dalk is ek al te sterk deur Martin Luther beïnvloed. Op die Ryksdag van Worms in 1521 het die keiser spottend aan Luther gevra of die Bybel (en die Bybel alleen) sy enigste rigsnoer is. Luther se antwoord was  Mein ding ist eyttel schrifft [My ding is net die Skrif]. Uiteindelik is dit telkens my persoonlike belydenis, waarmee ek, tot nie so lank gelede nie, taamlik tuis in die NHKA gevoel het.

Om Luther se verstaan van die Skrif en sy bevordering van “wetenskaplike eksegese” beter te begryp, is dit nodig om te besef dat hy nie as lectura in biblia aangestel is nie, maar as lectura in theologia. In die Middeleeue was biblia, sacra scriptura, sacra doctrina en theologia sinonieme, die onderskeid tussen die verskillende teologiese vakdissiplines was ’n produk van die laat 16de eeu. Luther self het teologie (theologia) en die Heilige Skrif (biblia) as sinonieme gebruik. Vir Luther was Bybeluitleg nie ’n moeilike aangeleentheid nie, aangesien die Bybel homself uitlê (Scriptura … sui ipsius interpres); die uitleg moet sodanig wees dat alles na Christus heenwys. Christus is vir hom die saak van die Skrif in persoon. In alle eksegetiese en hermeneutiese arbeid is die belangrike vraag uiteindelik ob sie Christum treyben [of dit Christus betuig] (Van Wyk 2015:1-8).

’n Tweede agteruitgang, selfs nog meer betreurenswaardig as dié van die teologie, is ’n gebrek aan meditatiewe geloofsomgang met die Skrif sodat die Woord van God weer daaruit gehoor kan word. Martin Luther was van mening dat ’n mens in biddende omgang met die Bybel die genade van God leer ken. Dit is ’n voortgaande proses wat nooit afgesluit kan word nie. Daarom het Luther ook gestel dat die Heilige Skrif nie volgens menslike insigte beoordeel, verstaan of geïnterpreteer kan word nie, maar dat ’n mens dit alleenlik ywerig in gebed kan bedink en oordink. ’n Mens moet voortdurend met die Skrif in oefening bly ten einde geloofs- en lewenservaring daarmee op te doen. Die Bybel kan nie bewys word nie, maar alleenlik geglo word. Skrifuitleg is daarom ook ’n proses, so bely ons, wat onder leiding van die Heilige Gees geskied. Die Bybel was nie net vir hom ’n boek wat gelees moes word nie. Dit moet ook toegepas en gebruik word in en vir die lewe. Hy skryf in 1529 in sy voorrede tot Melanchthon se uitleg van Kolossense, die Bybel is doch ja nicht Lesewort, wie sie meinen, Sondern eitel Lebewort … die nicht zum speculieren und hoch zu tichten sondern zum leben und thun dargesetzt sind [tog nie leeswoord, soos julle dink nie, maar is eintlik lewenswoord … wat nie geskryf is vir spekulasie en digkuns nie, maar vir (die) lewe].

Vir die Bybel om die boek van die lewe te word, is voortdurende bestudering daarvan nodig. Voortdurende omgang met die Bybel as die “leerskool van die geloof” is nodig sodat ons as Christene unserm Herrn Jhesu Christo … nachreden, wie er uns vorredet [ons Heer Jesus Christus … kan naspreek soos Hy ons voorsê], en nicht nur von Gott, sondern auch wie Gott zu reden wissen [nie alleenlik van God kan praat nie, maar ook weet om soos God te kan praat] (Van Wyk 2015:1-8).

In ons besigwees met die tekste van die Bybel word dit opnuut vir ons wat dit in die geloof bestudeer: die Heilige Gees geïnspireerde Woord van God. So word ons eie lees en persepsie deel van die Wirkungsgeschichte van die Skrif, wat in elke omstandigheid opnuut relevant word en tot ons spreek.

Dit bring my by die volgende saak wat na my mening in die NHKA te min akademiese aandag geniet het, en dit is die saak van die intertekstualiteit tussen Ou en Nuwe Testament. Die begrip intertekstualiteit (Harris 2008:33-34) verwys breedweg na die verband tussen tekste; die teks se konfigurasie met verskynsels wat buite die teks lê. Intertekstualiteit is een van die konsepte waarop die Franse poststrukturaliste hul taalteorie gebou het. Dit was veral die semioloog Kristeva wat aan die moderne teorievorming oor intertekstualiteit stukrag gegee het. Kristeva skryf: “Any text is  constructed as a mosaic of quotations; any text is the absorption and transformation of another”. ’n Teks is intergeweefd en bevat komplekse patrone en beelde. Wanneer die eksegeet se hoek ’n aantal kere verander word, is hy of sy in staat om meervoudige teksture van die teks te kan sien. Elke  teks  staan intertekstueel met ander tekste in verband. Die teks is die ontmoetingsplek van verskillende tekste. Dit is ’n spinneweb.

Intertekstualiteit het dan met die dialogisme van die taalhandeling te doen. Mondeling-skriftelike intertekstualiteit behels die spesifieke gebruik van taal in ander  tekste asook mense se daaglikse taalgebruik. Sosiale intertekstualiteit handel oor verskynsels soos kleredrag, die struktuur van families en huishoudings,  politieke organisering, militêre aktiwiteite, en verdeling van kos, geld en dienste. Kulturele intertekstualiteit handel oor vorme van verstaan asook oortuigings, byvoorbeeld die idees wat mense het oor  hul  belangrikheid,  hul  geleenthede, en hul verantwoordelikhede in die wêreld. Historiese intertekstualiteit gaan oor gebeure buite die teks maar wat historiese weergawes word deur narratiewe diskoers (Harris 2008:33-34).

Met al bogenoemde in gedagte is dit my ervaring dat die intertekstualiteit tussen Ou en Nuwe Testament, Septuagint en ander intertestamentêre geskrifte nog nie behoorlik in die teologie van die NHKA verdiskonteer is nie.

Uiteindelik behoort ’n kerk wat haarself op die Sola Scriptura-pilaar van die Reformasie roem, groter erns met die wetenskaplike studie van die Bybel te maak. Daarom word vanjaar se uitgawe van die THT aan Skrifbeskouing en Skrifhantering gewy.

Luther se konsentrasie op die Woord alleen (Sola Scriptura) het neergekom op ’n totale breuk met die teologiese tradisie waaruit hy gekom het. Die breuk was hoofsaaklik op die belangrike rol van Petrus Lombardus in die teologiese onderrig toegespits. Aangesien teologie oor die Bybel handel, verwag hy dat die gelowige die Woord sal lees en daaroor sal mediteer. In Petrus Lombardus die voorrede tot sy Duitse geskrifte skryf hy dat ’n mens daaroor moet nadink, peins, bid en wonder. Daar moet stilte wees en jy moet aandag gee wanneer jy dit doen. Die Bybel moet weer en weer gelees word, en tot die Heilige Gees moet gebid word om duidelikheid aangaande wat daar staan. Daar moet egter ook ’n sorgvuldige studie van die Bybel gemaak word. Die Bybel moet in diepte, oor ’n lang tydperk, met alle menslike middels tot ons beskikking, bestudeer word (Van Wyk 2015:1-8).

Literatuurverwysings

  • Harris, JCF, 2008. ’n Sosio-retoriese ondersoek na bepaalde begrippe in die boek Hosea. Voorgelê ter vervulling van ’n deel van die vereistes vir die graad Doctor Divinitatis in die Fakulteit Teologie.
  • Van Wyk, IWC, 2015, ‘Martin Luther en teologiebeoefening in die toekoms’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), Art. #3070, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ hts.v71i3.3070.
Share via
Copy link
Powered by Social Snap