Indien enigiemand tien jaar gelede vir my gesê het dat ek ’n predikant sou word, sou ek waarskynlik vir daardie persoon gelag het. Maar hier is ek vandag. Die predikant van Gemeentes Glencoe en Newcastle.
Aan die begin van my bediening het ek ongelooflik baie angs ervaar. Die besef dat ek, wat nou maar eers 25 jaar oud is, ’n predikant is, het soveel vrees in my wakker gemaak. Vrae het deur my kop gemaal. Is ek genoeg? Is ek bekwaam om in hierdie amp te staan? Soveel vrae het my amper oorrompel. Ek het eerlikwaar gedink dat ek dalk té gebroke is om hier te wees. Hierdie
idee het verander toe ek op Henri Nouwen se werk, The Wounded Healer, afgekom het en besef het dat my gebrokenheid my nie diskwalifiseer nie, maar juis deel van my roeping is.
Nouwen het beklemtoon dat ons eie kwesbaarheid die bron van ware bediening is. Ons word juis deur ons gebrokenheid en swakheid in staat gestel om ander te bedien en te troos. Sy idee van die gewonde heler is bekend: ons hoef nie volmaak te wees om te bedien nie; ons eie pyn kan juis ’n bron van empatie en heling vir ander word.
In ons derde of vierde jaar het my vriendin, prop Kharla Prins, ’n klaspreek gelewer waarin sy verwys het na die feit dat ons almal vol krake is. Dit is juis deur hierdie krake dat die lig skyn. Elke keer wanneer angs, vrees of twyfel in my vermoë weer kop uitsteek, is dit hierdie woorde
waaraan ek vashou.
As ek eerlik moet wees, is die vraag na my persoonlike ervaring in die bediening ’n gelaaide vraag. Ek as predikant sien en hoor dikwels meer van seer as wat ander mense besef, maar in dieselfde asem is dit so bevrydend in die geloofsverhale wat mense deel, die glimlag wanneer ek by die hospitaalkamer se deur instap, die ouer mense wat met elke kuier by die ouetehuis
straal van dankbaarheid. ’n Mens besef dan dat die lewe gelaai is met albei kante van die munt: goed en sleg, lig en donker, lag en huil. Dit is my ervaring dat daar soveel mooi is, maar net soveel seer. Dit is slegs genade dat ek deel kan wees van hierdie ongelooflike ervaring.
My gunsteling deel van die bediening is beslis Sondae. Die preekvoorbereiding gedurende die week, die stadige opbou van gedagtes en gebed tot die oomblik dat ek op die preekstoel staan en sê: So spreek die Here. Daardie oomblik dra ’n gewig wat niemand behalwe ander predikante
werklik sal verstaan nie. Die angs wat steeds daar is, vermeng met ’n diepe rustigheid wat net van Bo af kan kom. Dit is die oomblik wanneer ek die duidelikste voel waarom ek geroep is – nie omdat ek volmaak is nie, maar omdat ek toegelaat word om, ten spyte van my eie krake, die lig van God se Woord aan ’n gemeente deur te gee.
En elke Sondag, wanneer ek van die kansel af stap, weet ek weer: dit is presies waar ek hoort.