Wat kom dadelik by jou op as jy dink aan viering? Ballonne, streamers, konfetti, sjampanje, kos, vreugde…
Viering is soos versiersuiker op ’n koek, en die versiersuiker is mos die lekkerste deel daarvan. So is viering in die lewe ook die beste deel van die lewe. Ek wil argumenteer dat ons heeltemal te min dinge vier. Ons wag eers vir verjaardae, huweliksherdenkings of gradeplegtighede voor ons die sjampanje uithaal. Ek wil voorstel dat ons elke dag meer geleenthede moet soek om dinge te vier. Redes om fees te vier, is oral om ons.
Om die waarheid te sê, die Here het ook geweet dat sy volk vinnig sou vergeet dat hulle baie het om te vier, daarom het die Here vir hulle ’n klomp dae gegee – dae waarop hulle moes fees vier. God was erg oor feeste. Ons lees in Eksodus hoe die Here vir Moses en Aäron opdrag gee om na die farao te gaan en hom te vra om sy volk toe te laat om in die woestyn in te gaan en vir Hom ’n fees te hou. Maar die farao weier. Baie dom van hom, want die Here het sy feeste baie ernstig opgeneem, en ons weet dit het nie goed vir die farao uitgedraai nie.
In Levitikus 23 lees ons van ’n hele rits feeste wat die Here die volk wou laat vier: Ons lees van die paasfees; die fees van die ongesuurde brode; eerste vrugte; weke van viering; trompette; die dag van versoening; die huttefees… Die Here wou hê dat die volk op hierdie dae tot stilstand moes kom en mooi moes dink oor wat die Here alles vir hulle gedoen het.
Feeste spoel ook oor na die Nuwe Testament. Viering lê aan die hart van Jesus se hele bediening. Toe Hy die wêreld ingekom het, was dit met ’n gejuig van die engele wat sê: Vandag is daar vir julle gebore… ’n Verlosser… In Lukas 5: 29 lees ons: Levi het ’n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus. Jesus het so baie saam met mense gekuier en geëet en feesgevier dat party Hom ’n wynsuiper en ’n vraat genoem het.
Laat ons ook nie vergeet nie dat die eerste keer dat Jesus sy vermoë om wonderwerke te doen gewys het, juis by ’n troue was. Jy kry nie iets meer feestelik as dit nie.
Elke dag is ’n geskenk en wanneer ons leer om daardie geskenk entoesiasties te ontvang, open dit vir ons deure van geluk en vrede. Want wanneer ons begin leer om die klein dingetjies te vier, ontdek ons naderhand al hoe meer dinge om te vier.
Die goeie nuus is, ons hoef nie te wag vir ’n spesifieke dag op die kalender om dankbaar te wees vir wonderlike goed in ons lewens nie. Wanneer ons in die gewoonte kom om dikwels dinge te vier, ontdek ons eindelose geleenthede om dankbaar te wees vir al die goeie dinge. Wanneer jy al die seëninge in jou lewe vier, laat jy hulle al hoe helderder skyn en kan jy selfs nuwe seëninge na jou toe aantrek.
’n Voorstel: Koop vir jou ’n pakkie verjaardagkersies en soek elke dag na geleenthede om ’n kersie aan te steek en iets te vier. As jy bang is vir vuurhoutjies, kry van daardie kleurvolle sambreeltjies en soek rede om hulle op te slaan.
Jy weet nooit wanneer jy nodig gaan hê om iets te vier nie, so wees voorbereid. Moenie wag vir ’n rede om iets te vier nie – skep en soek jou eie redes!
Raak net vir ’n oomblik stil – sluit jou oë en dink net saam aan alledaagse dinge wat voor die hand liggend is wat ons kan vier, wat kan maak dat die lewe een groot fees is. Dinge soos jou asemhaling; jou sintuie; die mense in jou lewe; my Bybel; kerk; skool; werk…
Begin elke dag asof dit jou verjaardag is! Life shouldn’t be lived, it should be celebrated.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)