Genesis 6: 1-4
Van die begin van die mensdom se bestaan af, wou hy vashou aan die goeie en lekker wat hy het – dinge soos rykdom, mag en lewe. Dis sekerlik menslik, maar mense doen snaakse en soms verskriklike goed om te kan vasklou aan hierdie dinge. Dink maar aan wat politici doen om mag te behou, of wat mense doen om te probeer jonk bly.
Die gedeelte wat ons saamgelees het, is vreemd. Dit klink of hierdie gedeelte nie veel verskil van die sprokies wat mens soms vir kinders lees nie. God is deel van die gebeure in die opsig dat wat in die verhaal gebeur, by God ’n bepaalde reaksie na vore bring. En juis daarom kan ’n mens dit nie maar net eenkant toe skuif nie, en bly die vraag voor ons opduik: maar wat wou die verteller van die Genesis-boek vir ons hier sê? Hoe moet ons die gedeelte verstaan?
Onthou as agtergrond tot een moontlike verklaring van die gedeelte:
Genesis dateer ongeveer tussen 600 en 500 vC (in die tyd van die ballingskap).
Die wêreldbeeld in daardie tyd was onder die indruk dat die aarde op vier pilare staan en water onder en bo die aarde had.
In hulle kontak met ander volkere het Israel ook kennis gemaak met daardie volke se gode en verhale (soms soortgelyk aan Israel se eie) oor die begin/skepping van die aarde.
Sedert die sondeval is die mens op soek na die ewige lewe wat hy verkwis het deur sy ongehoorsaamheid. Die verhaal in ons skrifgedeelte sinspeel op die sug van die mens na die ewige lewe. Maar God sien reg deur al ons planne en sê hier dat Hy die mens se lewe sal beperk. Ons kan onsself nie red nie. Ons kan nie opklim na God nie. Alleen God kan aan ons die ewige lewe gee. Ons kan deel hierin omdat God na ons toe afgeklim het, self sterflike mens (Jesus Christus) geword het, sodat ons vir altyd kan lewe.
Gebed
Dankie Here, dat ons nie van onsself afhanklik is nie.
Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend