Handelinge 2: 1-24 en 32-36

Petrus verduidelik aan die omstanders dat wat hier gebeur het die werk van die Heilige Gees is en nie dronkenskap is nie. Dit is sigbaar in verskeie elemente. Vuur, wind of harde geluide was geassosieer met God se teenwoordigheid. Die Pinkstergebeure herinner ’n mens aan die woestyntyd van Israel waar hulle by die Sinai-berg God se wet ontvang het. Daar was ook vuur en ’n harde geluid betrokke om God se teenwoordigheid bekend te maak. Die ontvangs van die tien gebooie was ’n baie belangrike gebeurtenis in Jode se geloofslewens en geloofsgeskiedenis. En hier, ’n hele paar eeue later, gebeur iets soortgelyk. G’n wonder die Jode het saamgedrom om te kyk wat aangaan nie.

Daar is egter ’n verskil tussen hierdie gebeurtenis en die gebeurtenis by Sinai. By Sinai was God bo-op die berg en Moses was die boodskapper tussen God en sy volk. Daar was ’n duidelike skeiding tussen God en mens. Om in verhouding te wees met God moes mense die wette nakom, maar hulle het gesukkel. Boonop was God se teenwoordigheid gevaarlik. Die volk kon vanweë God se heerlikheid nie sy aangesig of teenwoordigheid aanskou nie. Op Pinkster in Jerusalem het daar egter ’n verandering gekom. God het neergedaal tot die gelowiges. Die skeiding tussen God en mense is nou oorbrug. Noudat Jesus Christus die dood oorwin het, is ’n nabye verhouding met God moontlik. Hy is die Een wat na ons uitreik omdat ons menslikheid ons verhoed om ons tot Hom te keer. Hierdie is wonderlike nuus dat die Almagtige God op dié manier verseker dat ons ’n lewende verhouding met Hom kan hê!

Voor die Pinkstergebeure het die Heilige Gees net in sekere mense gewerk waar hulle dan iets groot of belangrik gedoen het, soos Simson in die Ou Testament. Noudat die skeiding oorbrug is, is alle gelowiges gevul met die Heilige Gees! In hierdie tyd waar ons die werking van die Heilige Gees herdenk, is ons dankbaar dat God in en deur elkeen van ons werk. Wat ’n voorreg!

Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp