Psalm 130

In ons verhouding met God beleef ons soms ongeduld. Veral wanneer ons wag op die verhoring van ons gebede. Ons wag dalk al so lank! Waarop en hoe wag jy? Abram en Sara het gewag om ’n kind te kry, die volk wag vir bevryding uit Egipte. Ons wag soms verkeerd. Dalk met ongeduld en onsekerheid, dalk voorskriftelik. Om op die Here te wag, vra van ons spesifieke aksie en gerigtheid. 

Hierdie Psalmdigter wag geduldig op die vervulling van God se Woord. Ons word met die intrapslag ingetrek in die situasie van die Psalmdigter. Hierdie is nie ’n kitsgebed nie. Hy begin sy gebed met die woorde: Uit die dieptes roep ek na U. In vers 3 lees ons dat hy vrees dat God sy skuld in aanmerking sal neem. Hy is bewus daarvan dat sy skuld ’n inpak het op sy verhouding met God. Sonde het ’n verwoestende uitwerking op ons verhouding met God en mense. Sou hy nog kan bestaan as God sy sonde in aanmerking neem?

In die tweede gedeelte lees ons dat sy roep nie hopeloos is nie. Hy is vas oortuig van die vergiffenis van sonde. Hy stel sy vertroue in die Here en wag op die vervulling van sy Woord. Hy sê hy wag op die Here meer as die wagte op die môre.

Israel het die praktyk van nagwagte goed geken. Hulle nagte is in verskillende skoftes verdeel. Die laaste wagter se skof het van 03:00 tot sonsopkoms geduur. Dan was die nag op sy donkerste, vol gevare, maar hy het die vooruitsig gehad van die lig wat gaan deurbreek. Die Psalmdigter gebruik die beeld om te sê sy afwagting vr God se ingrype is nog groter as die wag van die nagwag. Hy weet dit sal op die bestemde tyd gebeur. Hy vertrou op die Here want by Hom is daar troue liefde.

Op die bestemde tyd het God sy Seun as Lig na die wêreld gestuur. Hy sal ook in jou omstandighede ingryp.

Ds Manda le Roux, Weskus