Johannes 10: 1-10 (AFR2020)

Die Goeie Herder en Bewaker van jul lewens, Jesus Christus, groet julle vandag met: Vrede vir julle, en onthou Ek het gekom om vir julle die lewe te gee, en dit in oorvloed.

Jesus sê duidelik dat Hy die ingang en die deur is, die enigste ware en Goeie Herder teenoor diewe en rowers wat inbreek en steel, wat slegs vir hulself leef en nie vir die skape omgee nie. Hierdie uitsprake van Jesus was teen die slegte herderskap gerig.

Dit is wonderlike goeie nuus en bring daagliks steeds groot troos dat God die Vader self in Jesus die eintlike Herder vir sy mense gegee het, die Een wat werklik omgee en sorg, en wat elkeen op die naam ken. Jesus is die Weg en die Waarheid, die Een wat die toegang is. Jesus, as Goeie Herder, het inderdaad nie vir Homself geleef nie, maar het uit genade sy eie lewe afgelê sodat sy eiendom, sy kudde kan inkom en vir altyd lewe.

Die Here Jesus as die enigste ware Herder laat ons nadink oor Jesus se lyding en sy selfaflegging aan die kruis, sy liefdesoffer ter wille van ons verlossing en sy opstanding uit die dood, sodat ons kan lewe.

In die gedeelte is Jesus krities oor die leierskap van sy tyd. Juis vir die herders van die volk, die skrifgeleerdes en Fariseërs, om hul eie dwaasheid en misleiding in te sien, om in hul spore om te draai en om Jesus as die deurgang na die Vader en die lewe te aanvaar. Die herders, heersers in Jesus se tyd, het daarin misluk om sorgsaam, barmhartig en liefdevol teenoor ander te wees. Tog word Jesus se woorde deur die leiers geïgnoreer en Hom as die ware Herder en Verlosser verwerp.

Hoe volg ons die Here Jesus as Herder? Loop ons in sy voetspore? Is ons daar tot troos, moed, genade en barmhartigheid vir ander in die lewe?

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth