Genesis 1: 1-5

Wanneer ons as gelowiges aan die Heilige Gees dink, dink ons graag aan die Nuwe Testament. Ons dink graag aan die Gees van God wat tydens die doop van Jesus Christus in die vorm van ’n duif beskryf word. Ons dink graag aan die Pinkstergebeure waar die Heilige Gees in die vorm van vuurtonge op die dissipels neergekom het.

Ons dink selde aan die werk van die Heilige Gees in die Ou Testament. Daarom is dit belangrik om te besef dat ons reeds voor die skepping die Gees van God ontmoet.

Genesis 1 vertel aan ons van die skepping en die Skepper. Ons lees dat God geskep het. Reeds hierdie eerste gebruik van die Naam van die Here laat ons dink aan die Triniteitsleer. God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees is teenwoordig tydens die Skepping van die hemel en die aarde.

Hierdie woorde word in vers 2 bekragtig wanneer spesifiek genoem word dat die Gees van God oor die waters gesweef het.

Die Hebreeuse woord wat in hierdie gedeelte gebruik word is die woord: Ruag/Ruach. Hierdie woord kan vertaal word met: wind, asem. In die Ou Testament word die woord ook gebruik om na die Gees van God te verwys.

Dit leer ons dat die Gees van God van die begin af deel was van God. En van die begin af betrokke was in alles wat die Here gedoen het.

Ons ontmoet die Gees reeds voor die skepping en beleef die kragtige werking van die Gees van God, God die Vader en God die Seun tydens die skepping. Daarom kan ons vandag steeds die Gees van God in die Skepping ontmoet.

Die aanhoudende gedruis van golwe langs die see bring aan baie ’n bewuswording en ’n ontmoeting met die Heilige Gees. Die natuurskoon van die berge of bosveld bring aan baie ’n stille bewondering en vervulling met die Heilige Gees.

Gebed

Here dankie dat ons u Gees reeds in die begin van u Woord mag ontmoet. Dankie dat ons vandag steeds u Gees in u woord maar ook in die skepping mag ontmoet. Amen.

Ds Michael A Müller, Potchefstroom-Studente