Handelinge 2: 1-4
Van die eerste beelde wat ons van die Gees kry is dat die Gees aan die beweeg was. Sonder enige toedoen van die mense wat daar was, het die Gees oor mense gekom.
En daarna was hulle net nie weer dieselfde nie.
Die Pinksterfees het aangebreek en graag wil ek in die volgende paar dae saam met jou dink oor wat dit beteken om deur die Fees van die Gees beweeg te word.
Die Gees het die vermoë om dit met ons te doen. Ons te beweeg. Hoe baie keer het ons nie nodig om te beweeg nie. Om ons voete op te tel, ons monde oop te maak, ons hande oop te maak, ons harte oop te maak en toe te laat dat die dinge rondom ons verander.
Ons het sulke mense nodig, kom ons noem hulle Pinksterprofete.
Wat is ’n profeet?
’n Profeet het mos te doen met kennis. Jesus as profeet kom deel met ons kennis en insig wat ons nooit sou gehad het nie. Hy openbaar dele van God aan ons deur hoe Hy was, wat hy gesê het en hoe Hy beweeg het. So help hy ons om die lewe beter te verstaan.
En deur die werking van die Heilige Gees, is ons in staat om die lewe nie net beter te verstaan nie, maar om die lewe ook beter te leef. Beter te beweeg.
’n Pinksterprofeet (dink ek) is iemand wat daagliks kennis deel maak van sy/haar lewe. Deur eenvoudig tyd te maak om by die bron van kennis uit te kom. En om dit wat ons hoor, dit wat met ons gebeur – ons te laat beweeg.
Gebed
Vuur van die Gees, kom brand in ons hart,
Laat ons getuies wees van die waarheid en die lig.
Met moed en krag sal ons getuig,
Van Jesus Christus, ons Verlosser en Koning.
Ds Leanie Lemmer, Bellville