Romeine 3: 21-24
’n Christen is iemand wat weet dat God jou in Jesus Christus, die ewige Woord van God, aanvaar het en dat jy deur Hom tot deel van sy Verbond geroep (verklaar) is. Hy is die Woord van God wat in ewigheid gespreek is (eie vertaling).
Al is hierdie woorde in 1957 deur Karel Barth geskryf, is dit nie nuwe nuus nie. Dit is tog die essensie van dit wat Jesus Christus kom verkondig het.
Die oomblik dat ’n mens met Jesus Christus gekonfronteer word, gebeur daar twee groot dinge. Albei is die werk van die Heilige Gees. In die eerste plek sien jy jouself vir wie jy werklik is. ’n Sondaar wat niks uit eie krag kan doen om jou situasie te beredder nie. Dit is die oordeel waarvan Jesus self, en sy apostels praat. Dit is hierdie konfrontasie met Jesus wat ’n mens laat uitroep: ek ellendige sondaar mens…
Die ander groot ding wat gebeur, is as die ellendige mens in Jesus Christus, sy Verlosser herken. God maak ons oë oop om anders na onsself, na Hom, as Drie-enige God en tegelyk na die wêreld as onder heerskappy van God te kyk.
Skielik verander alles in ’n mens. Jy, Christen, word deur Jesus Christus regverdig verklaar. Jy word ingeroep in die ewige verbond met God. Jy word ’n burger van die Koninkryk van die Lewende God. Jou burgerskap is permanent. Want Jesus Christus waarborg dit.
Die stryd van: Waar vind ek ’n… (regverdige, of liefdevolle of betrokke of teenwoordige of ‘Woke’) God?, wat my behoefte van die oomblik raaksien en vervul, word vervang met verwondering, aanbidding, vertroue en ’n alles insluitende geloof.
Alles in die wêreld wat ek tot nou as boos of opponerend gesien het, word nou die saailand waar die evangelie van verlossing met liefde uit dankbaarheid verkondig word. Vrees maak plek vir liefde.
Gebed
Heilige Gees, leer my om in die vryheid van my verlossing met liefde die evangelie uit te dra. Amen.
Ds Barrie Oberholzer, Grootfontein / Tsumeb