Matteus 8: 23-27

Laat jouself toe om ongeveer 2000 jaar in die geskiedenis terug te gaan. Plaas jouself binne-in daardie klein, dobberende skuitjie. Hoor in jou ore die gehuil van die yskoue wind, voel hoe dit tot in jou murg sny. Hoor die gerammel van die donker water. Sien die majestueuse golwe wat dreig om die skuitjie om te slaan. Dit is klaarpraat! Vandag gaan jy in die diep, donker en onheilspellende see verdink. Miskien sou jou eerste gedagtes ook dié van die dissipels gewees het: Here, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?!

Miskien kan ons nou elkeen die storielyn na ons eie lewe deurtrek. Ons almal het al in die lewe, simbolies gesproke, storms ervaar en deurleef. Dalk voel dit of die storms van die lewe vandag dreig om jou skuitjie te vernietig. Reg deur die Bybel het God se kinders storms in hulle lewe verduur. Jesus self het geweldige storms ervaar. Die ergste storm ooit in die geskiedenis het Hom aan die kruis laat uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat?

Skielik onthou die dissipels: Jesus is mos hier, hier by hulle in die dobberende skuitjie. Hulle draai na Hom vir redding en verlossing. Jesus staan op en Hy bestraf die wind en die see. Die wind gaan lê en die water word kalm. Daar is vrede en rustigheid. Daar is weer hoop! Die dissipels is verwonderd. Jesus is almagtig, Hy het mag oor alles en almal. So is God ook in elke storm in ons lewe teenwoordig. As ons op die stormgeweld gaan konsentreer, sal ons van Hom vergeet. Dit is die kuns van die lewe: Dwing jou aandag weg van die storm waarin jy vasgekeer is. Fokus op God wat steeds in jou stryd teenwoordig is, en Hy sal in sy almag ook daardie storm stilmaak.

God bly met ons, waar ons ook mag gaan. In gevare, angs en lyding bied sy almag ons bevryding – God bly met ons, waar ons ook mag gaan (Gesang 269: 4).

Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding