Johannes 20: 26-31
Tomas was nie teenwoordig wanneer Jesus aan sy dissipels verskyn op die eerste dag van sy opstanding nie. Die dissipels het vir Tomas gesê dat hulle die Here gesien het. Tomas kon nie verstaan hoe dit moontlik is dat Jesus kon opstaan uit die dood nie. Tomas wou Jesus eers sien voordat Hy sou glo. Niemand kon hom van iets anders oortuig nie.
Wanneer die dissipels agt dae later weer bymekaar is, is Tomas ook teenwoordig. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: ‘Vrede vir julle!’ Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig’ (Joh 20: 26-27).
Tomas doen dit egter nie want dit was nie meer nodig nie. Hy het besef dat hier ’n wonder gebeur het. Die deure van die vertrek was gesluit maar Jesus het tussen hulle gestaan. Dit was sigbare tekens van God se mag en teenwoordigheid. Die Here Jesus leef en Tomas kon Hom ook sien en hoor praat. Al wat Tomas gedoen het, was om met verwondering te bely wat hy glo. En Tomas sê vir Hom: My Here en my God! (Joh 20: 28).
Mag ons onvoorwaardelik glo en bely dat Jesus die Christus is, die Seun van God. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered (Rom 10: 10).
Om met blydskap en vreugde in God se teenwoordigheid te kan leef, bring vir ons vrede. Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo (Joh 20: 29b).
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
want Hy het magtige dade gedoen,
deur sy krag en Goddelike mag
het Hy oorwin (Ps 98: 1).
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus