Eksodus 3: 1-14

Ek is wat Ek is (Eks 3: 14).

Kan jy nog onthou hoe jy as kind oor God gedink het? Dalk het jy Hom voorgestel as ’n ou man met ’n wit baard op ’n troon, of dalk as iemand streng, ’n polisieman wat alles sien wat jy verkeerd doen. Of miskien het jy Hom as ’n liefdevolle herder of beskermende Vader gesien. Hierdie prentjies is dikwels gevorm deur stories wat ons gehoor het – by ons ouers, onderwysers, predikante of grootouers. Hulle het ons gehelp om betekenis te gee aan iets wat ons nie volkome kon verstaan nie.

Maar soos ons ouer word, begin baie van hierdie vroeë prentjies nie meer by ons leefwêreld pas nie. Ons ervaar pyn, vrae, twyfel, nuwe insigte. Ons ontdek dat God nie net in ons voorafgemaakte idees pas nie. God is groter, anders, onvoorspelbaar – ’n misterie.

In Eksodus 3 ontmoet Moses vir God in die brandende bos, en wanneer hy vra wie God is, antwoord God nie met ’n naam soos Ra of Baal nie, maar met: Ek is wat Ek is. Hierdie uitspraak wys vir ons dat God nie vasgevang kan word nie – nie in ’n naam, ’n definisie, of in ’n teologie nie.

Drie-eenheidsondag herinner ons aan hierdie waarheid: God is altyd groter as ons verstaan. God is nie ’n objek onder ons beheer nie, maar ’n lewende teenwoordigheid wat self openbaar wanneer en hoe Hy wil. God roep, sien, hoor en beweeg. Ons kan Hom nie verklaar nie – net verwelkom.

Praktiese toepassing: Sit vandag vir vyf minute in stilte. Laat jou ou prentjies van God opkom – en laat hulle weer gaan. Sê vir God: Wys Uself aan my soos U wil.

Gebed

Here, leer my om U nie vas te vang in my idees nie, maar U te ontmoet in u misterie. Amen.

Ds Johnny Young, Rustenburg-Tuine