Matteus 5: 1-12

In hierdie tyd van die kerklike jaar fokus ons op die werk van die Heilige Gees. Daarom gaan ons vir ’n paar dae kyk hoe die Gees my in geloof kan help met alledaagse en gewone probleme.

Matteus 5-7 is Jesus se bergrede, dit is sy belangrikste preek. Jesus het die ou wette en bepalings vir ons kom uitlê en gesê hoe ons dit prakties moet gaan uitleef. Die eerste deel van Jesus se bergrede noem ons die saligsprekinge, gelukkig is hulle … Jesus praat hier veral oor verhoudings en hoe ons teenoor mekaar optree. Voordat ons nou te wyd wil dink oor wie almal ons naaste kan wees, kom staan net vir ’n oomblik stil by hulle wat die heel naaste aan ons is. Dis dalk hier waar ons geloof eintlik getoets word, want dis maklik om vriendelik en regverdig teenoor ’n vreemdeling te wees, maar wat van daardie mense wat die heel naaste aan my is? Ons ken die beste en die slegste van mekaar. Ons weet hoe om mekaar op te wen, mekaar te irriteer en net die regte (of verkeerde) knoppies te druk! En as ek nou lekker opgewen is, is dit baie maklik om te vergeet dat ek nog steeds as verteenwoordiger van die Here moet optree. Dis maklik om te vergeet dat hierdie geliefde ook my medemens is.

Ons mense is kuddediere. Ons dink soms dat ons maar net op ons eie kan aangaan, maar ons het mekaar nodig. Net so nodig as wat ons kos, water, skuiling en selfs suurstof het! Daarom is dit nodig dat ons moet honger en dors na wat reg is, dat ons vrede sal najaag en dat ons die Here se koninkryk vir mekaar sal laat nader kom. En nie net teenoor vreemdelinge nie, maar ook teenoor daardie mense wat my die beste ken!

Gebed

Jesus, vandag kom U nader. U kom sit hier voor ons. U begin met ons praat.

Kom ons raak ’n oomblik rustig in stilgebed en luister net…

Ds Pieter Rossouw, Mafeking / Zeerust