Romeine 4: 18; 8: 18-30
Uitdagings en onsekerheid voel soms vir ons soos ’n eindelose stroom. Ons word gekonfronteer met maatskaplike onreg, en ’n wêreld wat dikwels troosteloos lyk. Tog, as kinders van God, dra ons ’n dieper, blywende hoop – ’n hoop wat verder reik as die hier en nou.
Hoop is ’n sentrale tema in die Bybel. Die boodskap van hoop is nie ’n blote wensdenkery nie, maar ’n vaste verwagting gegrond op God se getrouheid en sy onfeilbare beloftes. Dink aan Abraham wat teen alle hoop in geglo het dat hy die vader van baie nasies sou word (Rom 4: 18). Sy hoop was nie in sy eie vermoëns nie. So ook is ons hoop nie in ons eie krag of die omstandighede rondom ons nie, maar in die Almagtige God wat reeds die oorwinning behaal het deur Christus se opstanding.
Hierdie hoop vind sy uiteindelike vervulling in die voleinding. Ons sien uit na die dag wanneer Christus terugkeer, wanneer alle trane afgedroog sal word, en daar geen dood of droefheid meer sal wees nie (Op 21: 4). Dit is die belofte van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, waar geregtigheid woon en God alles in almal sal wees. Hierdie toekomsverwagting is nie ’n ontsnappingsroete uit die werklikheid nie, maar ’n kragtige motivering om nou reeds regverdig te leef, om met liefde en diensbaarheid mekaar te bedien, en om die goeie nuus van die evangelie uit te dra.
Die hoop op die voleinding gee sin aan ons huidige lyding en beproewinge. Paulus skryf in Romeine 8: 18: Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Ons verdra die swaarkry met volharding omdat ons weet dat dit tydelik is, en dat ’n ewige heerlikheid op ons wag. Hierdie hoop is ’n anker vir die siel.
Mag hierdie hoop ons inspireer om elke dag met doelgerigtheid en geloof te leef, terwyl ons uitsien na die dag wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien.
Ds Retha Losper, Suidoos-Witbank