Handelinge 6: 1-14; 7: 54-60
Kort na die kruisdood, opstanding en Hemelvaart van Jesus Christus lees ons in die Handelinge van die apostels hoe bedrywig hulle in daardie dae was. Hulle is in die wêreld besig om die Goeie Nuus van Jesus Christus met almal te deel.
Hierdie dissipels en apostels doen sulke goeie werk met die verkondiging van die Woord dat die werk te veel begin raak het. Soveel so dat die mense begin mor omdat van die werk, soos die versorging van weduwees, oorgeslaan en gemis word. Daar was eenvoudig net te veel werk.
Daar word toe ’n besluit geneem om nog sewe diakens aan te stel om met die versorging te help. Die gemeente het toe saam gedink en sewe name vir die apostels gegee wat as diakens kan dien. Onder andere was die naam van Stefanus ook genoem. Stefanus word aangestel as een van die diakens en die effek van hul werk word onmiddellik ervaar. Ons lees dat die woord van God versprei het en die gelowiges in Jerusalem het aansienlik vermeerder.
Dit is egter nie die einde van Stefanus se bediening nie. Van daar af lees ons dat Stefanus met ’n klomp verskillende groepe geredeneer het, maar hulle was glad nie opgewasse teen die wysheid van Stefanus deur die Gees van God nie.
Stefanus se werk behels nie net die versorging van weduwees, soos die aanvanklike rede vir sy aanstelling was nie. Maar dit word groter en baie mooier as dit. Stefanus preek en hy doen wonders en hy is gevul met die Heilige Gees van God. Deur dit alles verkondig hy die evangelie van die Here Jesus Christus vurig en aanhoudend.
Stefanus se passievolle verkondiging beteken dat hy as die eerste martelaar vir Jesus Christus gestenig word.
Stefanus se geloof het hom oorweldig en alles van hom gevra. Sy geloof en geloofswerk het hom van gelowige tot diaken tot versorger tot wonderwerker tot prediker tot uiteindelike martelaar vir Jesus Christus geneem.
Mag dit vir ons elkeen so wees dat ons soos Stefanus met ons hele lewe ons geloof in die Here Jesus Christus sal bely.
Ds André Steinmann, Piet Potgieter