Verpletterde Vanjan van Vanderbijlpark vra: Beste Oupa Stoep, Oupa moet asseblief help! My Golf GTI suip meer as ’n eerstejaarstudent wat sy eksamenuitslae vier. Het Oupa dalk vir my raad om brandstof te spaar?
Beste Vanjan, Oupa voel jou pyn. Toe Ouma Stoep Oupa oor die naweek aanspreek omdat hy hul huweliksherdenking vergeet het en sê dat Oupa haar na êrens baie duur moet uitvat om op te maak, het Oupa haar maar na ’n vulstasie toe gevat…
Oupa hoor nou die dag hoe drie omies sit en praat. Die eerste omie sê toe dat hy daarvan hou om in die reën te loop, want dan kan niemand sy trane sien nie. Die tweede omie sê dat hy daarvan hou om in misweer te loop, want dan kan niemand hom sien rook nie. Die laaste omie sê hy loop maar net die hele tyd, want brandstof kos nou R24,17 per liter.
Anders as om te belê in ’n donkie en ’n donkiekarretjie, weet Oupa nie watse ander plan ’n mens deesdae kan maak om die gebruik van duur brandstof te vermy nie. Ry moet ’n mens met jou voertuig ry, so betaal gaan jy betaal vir brandstof. Dis iets soos die Wet van Transvaal…
Oupa kan jou dalk raad gee oor hoe om te sorg dat daardie vuurwa van jou nie so dorstig is nie. Die basiese beginsels is dat jy moet bestuur soos ’n oupa en nie soos ’n windbol wat gehoor het dat Tops ’n twee-vir-die-prys-van-een-aanbieding op Buffelsfontein-brandewyn het nie.
Kom Oupa beduie vir jou hoe jy te werk moet gaan: Heel eerste moet jy vir jou ’n oupahoed kry om te dra terwyl jy bestuur. Hulle noem so ’n hoed ’n fedora en jy moet ene kry met ’n veertjie langs die kant. Hierdie hoed blus enige lus om meer as 60 kilometer per uur te ry, selfs op die snelweg. Kyk maar as jy ’n omie sien wat voortkruie op die snelweg – hy sal definitief ’n hoedjie op die kop dra, al is hy binne sy voertuig.
Oupa dra al vir jare so ’n hoedjie en hy kan jou verseker dat dit werk. Oupa gebruik deesdae die spoedbeheer in sy voertuig nie om te keer dat hy te vinnig ry nie, maar om te sorg dat hy by 60 kilometer ’n uur uitkom as hy die snelweg betree.
Oupa het ook êrens gelees dat ’n mens baie geleidelik moet versnel as jy wegtrek, want so bespaar jy baie brandstof. Een tegniek om dit reg te kry, is om die versnellerpedaal te trap asof daar ’n eier tussen jou voet en die versnellerpedaal is. Moet asseblief tog net nie soos Oupa maak en ’n regte eier gebruik nie. Oupa sukkel nou nog om die reuk van vrot eiers uit sy voertuig se matte te kry.
Hulle sê ook dat jy met toe vensters moet bestuur. ’n Oop venster veroorsaak blykbaar dat daar ’n trekkrag is wat jou voertuig terughou en ’n hoër brandstofgebruik tot gevolg het. As ’n mens dit wil doen, moet jy net sorg dat Mammie enige ander sop behalwe boontjiesop kook hierdie winter.
So, my liewe Vanjan, dis helaas óf tuisbly óf pote klap. Ander raad is daar nie.
