Opgewonde Olga van Onseepkans vra: Beste Oupa Stoep, ek en my man het ’n stukkie grond op Onseepkans geërf. Ons het daarmee saam ook ’n stewige geldelike erflating ontvang. Ons is baie dankbaar daarvoor, want nou kan ons ons droom verwesenlik om ’n trouvenue op te rig en in te rig. Omdat ons effe ver van die gebaande weë is, het ons gedink om net die beste ervaring vir voornemende paartjies en hul gaste te bied sodat dit vir hulle die moeite werd sal wees om hiernatoe te kom. Sal Oupa my asseblief raad kan gee oor hoe om die kapel in te rig sodat dit aan ons visie van uitnemendheid sal voldoen?

Beste Olga, mag die gedruis van ’n gros gerubs jou omgewe! Dankie tog dat iemand besef dat die kapel nie net ’n nagedagtetjie op ’n venue moet wees nie, maar die plek is waar die belangrikste gebeure van ’n bruilof geskied.

Oupa gaan hom nie uitlaat oor die struktuur van die kapel nie – daarvoor moet julle eerder ’n argitek raadpleeg. Wat Oupa wel aan die hand sal doen, is dat julle ook ’n klankingenieur en ’n klimaatspesialis sal betrek by die beplanning. Die klankingenieur moet julle help om van meet af ’n klankstelsel in te bou in die kapel wat so opgestel is dat almal duidelik sal kan hoor wat die dominee probeer sê. Oupa het al te veel kere te make gehad met ’n platejoggie wat agter in die vertrek sit en sy eie stelsel, wat gemaak is vir dansmusiek, probeer instel sodat dit ook werk vir iemand wat praat. Baiekeer gaan die “instel” gepaard met fluitgeluide wat klink soos ’n Boeing wat opstyg en die ouma van die bruidegom se gehoorapparaat laat disintegreer.

Die klimaatspesialis moet sorg dat die kapel lekker koel is in die somer en knus en warm is in die winter. ’n Rooi in die gesig en natgeswete bruidegom wat saam met die angeliere verwelk as gevolg van die somerhitte lyk net so simpel op die trouvideo as ’n bibberende blou bruidjie wat, teen alle advies in, aangedring het om ’n skouerlose rokkie aan te trek in die hartjie van die winter.

Oupa se werkplek by ’n troue is die kansel of kateder wat voor in die kapel staan. Asseblief, asseblief: Maak dit tog vir Oupa en ander huweliksbevestigers moontlik en maklik om hul werk te doen! Kerse en olielampies was in Nebukadnesar se tyd al bronne van lig en hulle moes maar daarmee saamleef, maar ons het deesdae iets soos elektrisiteit (soms!). Bou genoeg beligting in om die dominee te help om mooi te sien wat hy doen sodat hy nie vir Riet en Kannie in die huwelik bevestig in plaas van vir Piet en Sannie nie.

Probeer dit ook so inrig dat die kansel ’n vlak hoër as die bruidspaar is. Deesdae is dit mos mode om ’n rugbyspan strooijonkers en ’n netbalspan strooimeisies weerskante van die bruidspaar te laat staan. Oupa voel elke keer ’n bietjie bedreig deur die allemintige span wat voor hom plek inneem en hulle maak ook dat Oupa nie die res van die gaste kan sien nie en die gaste ook net ’n stem daar van voor af hoor kom, sonder dat hulle kan sien wie praat.

’n Laaste versoek,  liewe Olga, maar hiervoor sal julle ’n bietjie innoverend moet wees. Rig die kapel so in dat, vir elke tien minute wat die bruid laat is, een ry gaste onder die vloer in verdwyn. As die bruid dan ’n uur en ’n half laat is, soos al met Oupa gebeur het, sal sy by ’n leë kapel instap. In die vertrek onder die vloer van die kapel, kan die gaste hulle intussen vermaak deur na heruitsendings van Orkney snork nie te kyk. Die meesterstuk sal egter wees as julle vir die bruidegom ’n afstandbeheerknoppie kan gee wat hy na ’n uur kan druk en so kan sorg dat die dominee al pratende onder die vloer in verdwyn…

Share via
Copy link
Powered by Social Snap