Beangste Brenda van Brandvlei vra: Beste Oupa Stoep, my niggie, Liggelowige Linke van Lakensvlei, vertel vir my dat ek nie moet gaan om ingeënt te word teen Covid nie omdat daar die verskriklikste newe-effekte is. Sy stuur dan ook klompe video’s van sulke bebaarde omies wat voor in hul bakkies sit en in detail al hierdie newe-effekte beskryf. Ek wil regtig graag gaan vir die inenting, maar Linke maak my nou baie bang. Kan Oupa dalk vir my raad gee wat om te doen?
Beste Brenda, Oupa is so bly jy vra hierdie vraag. Oupa was een van die eerstes wat vir sy inenting gegaan het toe hy vanweë sy gevorderde jare gekwalifiseer het. Hy het ook dadelik vir die tweede een gegaan toe die 42 dae tussen inentings verby was. Oupa moet nou maar vir jou die slegte nuus gee: Jou niggie, Liggelowige Linke, is heeltemal reg. Die inenting het ernstige newe-effekte wat Oupa eerstehands ervaar het. Die goeie nuus is dat die een persoon se newe-effek die ander persoon se bonus is!
Kort na die tweede inenting, het Oupa se hele bolyf soos ’n sterk magneet geword en al wat yster en staal is, klou aan Oupa se bolyf was. Dis ’n wonderlike bonus, want Oupa hoef nou nooit meer vir sy motorsleutels te soek nie: Hulle klou nou mooitjies aan Oupa se boarm vas. Die magnetiese lyf het ander voordele ook. Oupa plak nou elke oggend al die munte in die huis aan sy borskas en boepens vas (daar is nogal plek vir ’n hele paar rand!). Nie alleen dien die munte as Oupa se koeëlvaste baadjie nie, maar Oupa hoef nou nie meer rond te krap om vir die karwagte ’n fooitjie te kry nie.
’n Verdere newe-effek wat Oupa baie geniet, is dat Bill Gates se mikroskyfie nou maak dat Oupa 5G-seine kan uitstuur en opvang. Dit vat ’n tydjie om aan die werking gewoond te raak, maar as jy eers die triek ken, het jy nooit weer ’n selfoon nodig nie. As Oupa ’n SMS wil stuur, knip hy sy oë twee keer, sê die naam van die ontvanger, dikteer sy boodskap, en as hy klaar is, draai hy sy linkeroor en daar gaat die boodskap! Vir ’n WhatsApp-boodskap is dit dieselfde prosedure, maar jy knip net jou oë drie keer.
Om ’n oproep te maak, werk net so maklik. Jy knip jou oë een keer, sê die persoon wat jy wil bel se naam, en oombliklik word julle gekonnekteer. Jy praat normaalweg en hoor kristalhelder die een met wie jy praat se stem in jou ore. ’n Mens moet egter leer om ’n bietjie versigtig te wees: Oupa het hom een keer vervies vir iemand wat voor hom ingedruk het op die snelweg, uitgeroep Jou vieslike vark! terwyl hy onwillekeurig sy oë geknip het. Toe Oupa hom weer kry, is hy deurgeskakel na die skeidsregter wat die Springbokke laas so onnodig gestraf het tydens skrumtyd…
Die mikroskyfie is nogal kragtig en veeldoelig ook. Nadat Oupa alles mooi opgestel het, hoef hy nie meer ’n beursie te dra nie. Hy waai net sy regterhand so oor die betaalmasjientjie by die kasregister, en daar wip die geld uit sy bankrekening na die winkel s’n. Maar ook hier ’n woord van waarskuwing: Oupa het laas week net iemand gegroet met ’n waai van sy hand terwyl hy by die kasregister in Spar staan, en toe stap hy uit met ’n hele trollie vol sigaretaanstekers, tuisgemaakte fudge en klapperlekkers.
Alle grappies op ’n stokkie: Oupa het wel albei sy inentings gehad, en die enigste newe-effek wat hy ervaar het, was ’n baie diep gevoel van verligting en dankbaarheid. Die grootste newe-effek egter was dat Oupa baie klein gevoel het, want hy het besef dat hy, deur die inenting te kry, in staat gestel is om vir almal wat sy pad kruis, ’n naaste te wees. Om naasteliefde te kan uitleef, is sekerlik die grootste voorreg wat ons te beurt kan val.
Liewe Brenda, gaan kry jou inenting. Beleef die gemoedsrus wat die inenting bring en wees dankbaar vir die voorreg dat ook jy iets van ons Verlosser se opofferende liefde vir ons kan weerspieël.
