Kekkelende Kaatjie van Kraaifontein vra: Beste Oupa Stoep, met Paasfees om die draai het ek gewonder: Waar kom die paashaas vandaan?
Beste Kaatjie, Oupa wens dat hy vir jou ’n beter antwoord kon gee, maar die eenvoudige waarheid is dat ons nie presies weet waar die paashaas sy oorsprong het nie. Die Bybel praat nêrens van ’n diertjie met lang ore en ’n wollerige stertjie wat soet kinders beloon met sjokolade-eiers nie. Die vroegste verwysing wat Oupa kon opspoor, is dat Duitse immigrante na Amerika in die 1700’s saam met hulle die tradisie van ’n Osterhase gebring het, ’n hasie wat eiers gelê het. Die Amerikaners, trou aan hul aard, het natuurlik hiervan ’n groot besigheid gemaak…
Oupa sien niks verkeerd met die ou paashaas wat kom kuier en sjokolade-eiers aflewer nie. Oupa steek self ’n hele gros eiers in die huis weg as sy kleinkinders kom kuier. En omdat Oupa ’n baie toegewyde Oupa is, het hy laasjaar vier ure lank saam met sy kleinkinders gesoek na die paaseiers, al het Oupa die vorige aand self al die eiers opgeëet…