Rasende Ronel van Reddersburg vra: Beste Oupa Stoep, Oupa moet asseblief help! Ek kry ’n ernstige benoudheid oor my as ek dink aan die jaar 2024 wat nog grotendeels voor ons lê. Dinge is so deurmekaar in ons land, daar is soveel moeilikheid, selfs oorloë in die res van die wêreld. Kan Oupa asseblief vir my raad gee oor hoe ek deur hierdie jaar moet kom, en sommer ook ’n paar voornemens wat my gaan help om dit te maak?
Beste Ronel, Oupa gaan jou so antwoord:
Die Kingda Ka roller coaster in die Six Flags-pretpark net buite Jackson, New Jersey in Amerika is die wêreld se hoogste wipwaentjierit. Dié wipwaentjie, of soos almal maar daarvan praat, roller coaster, is 139 m hoog – dis gelykstaande aan ’n gebou van meer as 40 verdiepings, en die waentjie bereik ’n topspoed van 206 km/h in die 50 sekondes wat dit neem om die byna 1 km lange spoor te ry. Op Oupa se ouderdom is die ergste wipwaentjierit waarvoor hy kans sien om vir 10 minute op ’n bewegende tuimeldroër te sit. Daar is nie ’n manier wat enigiemand hom op die Kingda Ka gaan kry nie.
Maar dit wil Oupa waag om te voorspel: 2024 gaan ons op ’n roller coaster vat wat soms erger gaan voel as wat die Kingda Ka ooit kan wees. Nes ’n roller coaster, is die lewe ook maar ’n op-en-af-affêre: Nou’s jy bo, dan is jy onder. Soms snel die dae vinnig, vinnig verby, ander kere gaan die tyd te stadig om en elke dag voel soos ’n ewigheid. Soms kraai jy van die lekker, ander kere is jy vol vrees. En so gaan die lewe aan, op en af en om en om en op en af en om en om – ’n nimmereindigende roller coaster.
Dis hoe 2024 ook gaan wees, voorspel Oom Profeet Oupa. Ons is nou maar eenmaal op die roller coaster van die lewe en ry sal ons hom maar moet ry, kom wat wil. Nou weet jy mos hoe werk ’n roller coaster-karretjie: Hy het nie ’n stuurwiel waarmee jy hom kan stuur nie, nie ’n briek of petrolpedaal waarmee jy hom vinniger of stadiger kan laat beweeg nie. Jy sit daar, styf vasgegordel, en al wat jy eintlik kan doen, is om maar te klou vir die vale – sien, jy ry nie die karretjie rond nie, die karretjie ry jou rond! So, geniet dit as die rit lekker is en klou maar net vas as die val, as die moeilikheid kom.
Maar anders as die roller coaster in ’n pretpark wat net een keer in die rondte gaan en dan kan jy uitklim, het die roller coaster van die lewe nie ’n afklimplek nie. Jy ry hom aanmekaar, jou hele lewe lank. Op en af, bo en onder, om en om, dag in en dag uit. En dit, liewe Ronel, is hoe Oupa dink 2024 gaan wees.
So ’n roller coaster-rit sal selfs die sterkstes onder ons van tyd tot tyd maar lekker seesiek maak. Nou hoor Oupa hulle sê dat as jy seesiek word, jy nie hier voor jou op die boot of na die golwe langsaan die boot moet kyk nie. Jy moet daar doer vêr na die horison kyk.
Al stukkie raad wat Oupa daarom vir jou het, liewe Ronel, is dat, wanneer die roller coaster van die lewe jou begin benoud of bang maak, jy moet leer om van tyd tot tyd daar doer vêr op die horison te kyk. Hebreërs 12 sê dit so: Hebreërs sê dat ons ons pad deur die lewe met volharding moet aanpak met die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
Oupa hoop dat hierdie stukkie raad jou dalk sal help. Maar jy het ook gevra oor voornemens vir die jaar. Oupa het iets raakgelees wat ene Nadia Bolz-Weber oor voornemens gesê het. Dit maak vir Oupa baie sin. Sy sê:
- Onthou dat daar geen voorneme is wat, as jy dit nakom, gaan maak dat God liewer vir jou gaan wees nie. Hy is lief vir jou omdat Hy God is.
- Onthou dat daar geen voorneme is wat, as jy dit nakom, gaan maak dat die lewe minder onseker gaan wees nie.
Daarom, sê sy, los nou die deel waar jy jou voorneem om hierdie jaar beter te doen en beter te lyk en bederf jouself met die gawe van rêrige, rêrige lae voornemens – nie omdat jy moed opgegee het nie, maar uit goedhartigheid teenoor jouself:
- Verwag daarom so min van jouself dat jy supertrots sal wees op elke klein dingetjie wat jy wel bereik.
- Verwag so min van die mense in jou lewe dat jy daarom elke mooi en dierbare ding wat hulle doen. sal raaksien en koester.
- Verwag om so min uit 2024 te kry dat jy elke dingetjie wat tog na jou kant toe kom, met groot blydskap sal vier.
Want sien, ons moet eerder op soek wees na vreugdes in die lewe, eerder as om te tender vir teleurstellings.
Mag 2024 daarom vir jou en jou geliefdes ’n vreugdevolle jaar wees.