Nig Stienie van die verre noorde van Limpopo het Oupa Stoep gevra of hy dalk raad het oor hoe om te oorleef in ’n erediens as die kwik hier by 45º Celsius trek, soos gereeld in hul geweste gebeur in die somer. Oupa Stoep beveel graag die volgende aan:
Die sleutel tot oorlewing op ’n snikhete dag is om jou liggaam se hitte-absorpsie te beperk en te sorg dat jy so min moontlik elektroliete verloor.
Beplan vooruit
Maak vooraf ’n deeglike studie van die kerkgebou sodat, wanneer die kraaie begin gaap, jy weet waar om stelling in te neem. Maak ’n nota in jou kop waar die beste sitplek op dié dae gaan wees, te wete naby oop vensters of onder die lugstroom van die waaiers, as daar is. Kyk ook waar die son se strale inkom en moenie in direkte sonlig gaan sit nie. Smokkel ’n klein botteltjie water in Ma se handsak in. As almal opstaan om te sing, vat gou ’n slukkie water. Dit sal die elektrolietvlakke stabiel hou.
Hou ’n veilige volgafstand tussen jou en ander lidmate
Die menslike liggaam straal soveel hitte uit soos ’n 60 W-gloeilamp. Probeer om nie te naby ander mense te sit nie. Handhaaf veral ’n veilige volgafstand tussen jou en die egpaar wat, tussen hulle twee, vier sitplekke vol sit. Dis nou daardie oom met die kakie sakdoek waarmee hy kort-kort sy voorkop afvee en die tannie wat haar eie batteryaangedrewe waaiertjie saamgebring het. Saam straal hulle genoeg hitte uit om Eskom se probleme op te los. ’n Veilige plek is om reg voor in die kerk te gaan sit. Bitter min ander mense sit ooit daar.
Moenie vroetel nie
Hoe meer jy vroetel en rondskuif, hoe meer energie verbruik jy en hoe meer hitte wek jy op. Sit stil en dink aan die Suidpool.
Bid
Jesus het vir 40 dae in die woestyn net op gebed oorleef. Jy kan dit deur 60 minute in ’n kerkgebou maak.
Noodplan
In geval van ’n versengende hittegolf, gebruik as noodmaatreël jou Liedboek as ’n waaier. Onthou om net eers al jou boekmerke en papiertjies uit te haal, anders lyk jy soos ’n opgewonde blommemeisie wat konfetti strooi.
Laaste uitweg
As niks anders meer help nie en jy voel jy gaan dit nie maak nie, kruip saggies vorentoe en gaan lê op die vloer onder die Nagmaaltafel. Hitte styg, so dit behoort daar koeler te wees. Gaan lê net op jou maag. ’n Mens snork minder as jy op jou maag lê.