Paniekerige Proponentjie van Petrusville vra: Oupa Stoep, ek is nog nuut in die gemeente en is nou gevra om ’n paartjie se verlowingspartytjie met Skriflesing en gebed te open. Kan Oupa my dalk help met ’n teks vir die geleentheid?

Liewe Proponentjie, jy trap nou op ’n seer liddoring van Oupa. Oupa kan nie verstaan hoekom elke liewe geleentheid in mense se lewens in ’n grootskaalse produksie moet ontaard nie. Oupa het op sy dag in sy Datsun 1200-karretjie in die oprit van sy ouers se huis verloof geraak, want die ring in sy broeksak het soos ’n kool vuur gebrand, so gretig was hy om dit aan die liefde van sy lewe se vinger te sit.

Maar o wee, vandag moet alles mos ’n produksie wees. ’n Hele leërskare helpers word betrek om die verlowingsgeleentheid te reël: ’n helikoptervlieënier om die kwansuis niksvermoedende meisie tot op die naaste bergpiek weg te voer; ’n span kokke en kelners wat daar bo ’n fênsie tafel dek en ’n tiengangmaaltyd voorsit; ’n strykkwartet wat romantiese musiek speel; ’n span jong meisies in engelgewade wat heliumgevulde hartvormige ballonne vashou; ’n Cupido-knapie met ’n pyl en boog en ’n hommeltuig-operateur wat alles van ’n hoogte van 5 000 meter op video moet vaslê. En dis maar ’n bra eenvoudige produksie wat Oupa hier beskryf…

Maar terug by jou oorspronklike vraag: Oupa stel voor dat jy in Deuteronomium rondkrap vir die teks wat iets sê soos dat die volk al die beloofde land in die verte kon sien, maar hulle mog dit nog nie betree het nie.

So is alles deesdae mos ’n okkasie wat met ’n fotosessie vasgelê moet word vir tyd en ewigheid. As Ouma ’n stel nuwe valstande gekry het, dan is dit tyd vir ’n photoshoot. Almal trek dieselfde aan, gewoonlik wit hemde en blou denimbroeke, en dan sal die fotograaf teen wil en dank ’n foto wil neem van almal wat gelyk in die lug opspring, Ouma met haar loopraam inkluis!

’n Groot euwel wat deesdae sy kop uitsteek, is die sogenaamde gender reveal-okkasies (Oupa wil graag suiwer Afrikaans gebruik, maar geslagsonthulling klink soos iets wat gebeur wanneer ’n ram gekapater word!). In Oupa se jong dae, was al manier om die baba wat op pad was se geslag te probeer bepaal, deur na ouvroustories te luister: Sy dra in haar boude, dit gaan ’n seuntjie wees of Die baba sit hoog, dit gaan ’n dogtertjie wees.

Maar deesdae is daar mos 3D- en selfs 4D-skanderings wat nie net die baba se geslag aandui nie, maar sommer ook of die kindjie links- en regshandig gaan wees. En dan moet dié nuus met ’n produksie bekend gemaak word. Op klein skaal word ’n koek gebak en as jy hom sny, stort daar ’n tsunami blou Smarties uit. Maar party mense gaan mos ekstra groot…

So was daar ’n man in Amerika wat besluit het hy gaan ’n gender reveal van formaat hou. Hy het op ’n myn gewerk en oor maande bietjies-bietjies plofstof huis toe gebring. So het die man 34 kg plofstof bymekaargemaak. Dis toe tyd vir die onthulling. Hy gaan na ’n uitgewerkte gruisgat net buite die dorpie waar hy bly, pak sakke vol poeier in die regte kleur bo-op die springstof, en laat waai. Hy het hom effe misreken met die krag van die springstof: Elke liewe huis in die dorpie se vensters is aan flarde geskiet en ’n hele klomp huise se mure het gekraak. Maar almal in die dorpie het geweet wat die geslag van die baba is, want almal se dakke was pienk!

Ai, my liewe Proponentjie, die slegte nuus is dat hierdie geit van produksies maak van elke geleentheid net meer en meer gaan toeneem. Die nog slegter nuus is dat jy gaan moet worstel om ’n gepaste teksvers vir elke geleentheid te kry. Oupa is oud en ongeskik genoeg om deesdae Nee te sê, terwyl hy dink Vlieg in jou malle kanon in!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap