Ongedurige Otniël van Omdraaisvlei vra: Beste Oupa Stoep, ek kan nie meer nie! Dis nou die hoeveelste roudiens waartydens iemand gevra word om ’n huldeblyk oor die oorledene te lewer, maar dan hou die spreker net nie op praat nie! Die laaste een het twee keer langer as die hele erediens gepraat. Oupa moet help: hoe kry ek dié mense gebriek? Sien, as daar een ding is wat ek nie kan verdra nie, is dit ’n eierbroodjie wat al begin bruin-oranje word en omkrul van die ouderdom…

Beste Otniël, dis ’n teer puntjie wat jy hier aanraak! Oupa verstaan dat mense baie emosioneel is by roudienste en dat die emosies só die oorhand kry dat ’n mens hulle nie kan keer as hulle eers begin praat nie. Oupa besef ook dat daar werkende mense is wat net ’n uur of twee tot hulle beskikking het om ’n roudiens by te woon. Oupa erken egter ruiterlik dat hy nog nie die goue middeweg kon vind tussen dié met baie woorde en dié met min tyd tot hulle beskikking nie. Die moeilikheid is verder dat die ellelange huldeblyk gewoonlik opgevolg word deur ’n visuele huldeblyk van nog ’n ander halfuur. En jy as predikant sit vasgevang op die kansel en tel maar die ligte in die kerkgebou, soos die gemeentelede doen terwyl jy preek.

Oupa het eendag die roudiens van ’n baie geliefde algemene praktisyn gelei. Die kerkgebou was stampvol en die familie het dit toe goedgedink om enigiemand wat wou, uit te nooi om iets oor die ontslape dokter te kom sê. Ná ruim negentig minute, het daar steeds ’n tou mense gestaan en hulle beurt afgewag om te praat. Die sprekers het letterlik die handmikrofoon se battery pap gepraat, en dit het Oupa toe die geleentheid gegee om die verrigtinge tot ’n halt te roep.

’n Ander les wat Oupa geleer het, was om die mense aan die begin van die diens te vra om asseblief hulle selfone af te skakel. Oupa het dit begin doen nadat iemand ’n werklik roerende huldeblyk gelewer en toe gevra het vir ’n minuut se stilte om voorbidding vir die naasbestaandes te doen. Die gewyde stilte is egter onderbreek deur iemand se selfoon wat begin lui het. Die eienaar van die selfoon was duidelik ’n aanhanger van die popgroep Queen, want sy luitoon het kliphard uitbasuin: Doef, doef, doef… Another one bites the dust, and another one gone. Oupa was besig om ’n tonnel onder die kansel deur te grou om van die situasie te ontsnap toe hy hoor hoe almal uitbars van die lag. Die familie was gelukkig geseënd met ’n baie goeie sin vir humor.

’n Kollega van Oupa vertel dat die beste huldeblyk wat hy gehoor het, ook die kortste was. Die oorledene se broer het vorentoe gekom en sy huldeblyk was soos volg: ’n Roos het ’n blom en ’n roos het dorings. Maryna was soos ’n roos. Kom ons onthou die blom en vergeet die dorings. Dankie.

My liewe Otniël, Oupa het dus nie vir jou raad nie. Die enigste troos wat Oupa jou kan gee, is dat jy naderhand ook die Diensboek van die Kerk uit jou kop sal ken, nadat jy dit telkens deurgelees het terwyl die huldeblyke aan die gang is.