Nors Neels van die Noordpool vra: Beste Oupa Stoep, my eersteling is nou amper vier jaar oud en hy kom nou van die speelgroepie af huis toe met allerhande praatjies oor Kersvader en die geskenke wat hy wil hê Kersvader vir hom moet bring. Ek dink dis alles ’n pot nonsens en deesdae is Kersfees eintlik net ’n tyd wat besighede uitbuit om meer geld te maak. Dink Oupa ek moet vir klein Neelsie die kaalkopwaarheid oor Kersvader vertel?  

Beste Neels, Oupa is dit met jou roerend eens dat Kersfees hopeloos te veel gekommersialiseer word. Oupa weet ook dat Kersvader net mooi niks te make het met dit wat ons tydens Kersfees gedenk nie. Maar dit gesê, dink Oupa tog dat kindertjies se lewens oneindig armer sal wees as ons hulle die verbeeldingsvlugte oor Kersvader, die Tandemuis en die Paashaas ontneem. Oupa is nie ’n sielkundige nie, maar hy wonder watter skade hierdie fiktiewe karakters ons kindertjies met hul rein gemoedjies kan aandoen. Alte gou verloor hulle in elk geval mos maar hul onskuld en verwondering. Hulle gaan lank genoeg tyd hê om te worstel met die harde werklikheid van die ondermaanse lewe.

Oupa het iets gesien van hoe al dié dinge bymekaarkom in ’n kind se kop toe sy twee kleinkinders verlede jaar kort voor Kersfees kom oorslaap het. Oupa het hulle kamer toe gevat en gesê dat hulle hul gebedjies mooi moet opsê voordat hulle slaap. Nuuskierig soos hy is, het Oupa net buite die kamerdeur hulle gestaan en afloer. Die jongste bid eerste, maar hy skreeu sy gebedjie kliphard uit: Liewe Jesus, sal Liewe Jesus asseblief vir Kersvader sê om vir my ’n nuwe fiets vir Kersfees te bring?

Hoekom skreeu jy so? vra sy boetie, Liewe Jesus is mos nie doof nie.

Ek weet, sê die klein mannetjie toe, maar Oupa is!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap