Middeljarige Maans van Merweville vra: Oupa Stoep, ek besef met ’n skok dat ek nader aan honderd jaar is as aan my geboortedag, en dié wete vul my met groot angstigheid. Aangesien Oupa meer ervaring van hoë ouderdom het as ek, kan Oupa dalk vir my raad gee hoe ek die ouderdom kan oorleef?
Liewe Maans, jy praat nou met die regte persoon! Oupa se lewensjare het al sy IK-telling verbygesteek… Maar wees nie bevrees nie, nie alles aan die oudwordproses is vreesaanjaend nie!
Maar kom ons maak net gou uit dat ons oudwees reg definieer. ’n Mens weet dat jy oud is wanneer dit twee probeerslae vat om uit ’n rusbank op te staan, en dié opstaan ook vir jou as jou gewigopteloefeninge tel. As jy oud is, beteken ’n los gelukkie dat jy onthou waar jy jou kar by die winkelsentrum parkeer het, en is die vonkel in jou oë bloot die weerkaatsing van jou bifokale lense. Jou sosiale lewe verander ook as jy oud word: As jy met vakansie is, raak jou energie op voor jou geld opraak; om op die stoep te sit, is vir jou ’n aandjie uit, en daar op die stoep kan jy nie jou wiegstoel aan die gang kry nie.
As jy ’n trui aantrek en jy wonder watter ou man se hande kom nou onder by die moue uit, weet jy die ouderdom het jou in sy greep. Ook as jy wonder hoekom dit vir jou voel of jy oor die muur is, maar jy kan nie onthou of jy ooit óp die top van die muur was nie…
As twee of meer van hierdie eienskappe op jou van toepassing is, dan het die ouderdom jou stewig in sy benerige hande vas. Vir dié fase van jou lewe moet jy ’n klompie beginsels aanleer sodat jy kan oorleef. Hier volg ‘n paar:
- Jy mag met jouself praat. Dié goeie geselskap en wyse raad is onontbeerlik.
- Klere wat pas, is klere wat modieus is.
- Jy hoef nie meer op kursusse te gaan om te leer om jou woede in toom te hou nie. Die ander mense moet nou maar net leer om jou nie die duiwel in te maak nie.
- Jy moet besef dat jou menseverhoudings puik is – dis jou verdraagsaamheid vir idiote wat werk nodig het.
- Die grootste leuen wat jy vir jouself kan vertel, is: Dis nie nodig dat ek dit neerskryf nie – ek sal dit onthou.
- Betyds is wanneer ook al jy daar opdaag.
- Jou grootste wens is dat jy in ’n tuimeldroër kan klim en na 15 minute kreukelvry en drie groottes kleiner kan uitklim.
- Jy sukkel om te verstaan hoekom mense wat jou jare het, skielik so oud geword het.
- Jy maak vrede daarmee dat om ouer te word jou dalk stadiger gemaak het, maar darem ook meer woorde gegee het om te gebruik.
- Enetjie vir die pad beteken dat jy gou ’n draai loop voor jy by die huis uitgaan.
Maar Maans, iets wat oud word een van die grootste seëninge in die lewe maak, is as jy bevoorreg is om kleinkinders te kan hê en hulle te kan geniet. Sien, kleinkinders het dinge nodig wat oupas en oumas in oorvloed vir hulle kan gee, dinge soos onvoorwaardelike liefde, geduld, goedhartigheid, humor, lewenswysheid – en natuurlik baie, baie swieties!
