Dikvellige Dirkie van Danville vra: Beste Oupa Stoep, my sussie het die ander dag getrou, sommer by my ma-hulle se huis, want hulle moes geld spaar vir die babatjie wat op pad is se kleertjies. Hulle het my toe aangestel om met my selfoon die troufoto’s te neem. Ek het my taak baie ernstig opgeneem en het probeer om die mooiste foto’s te neem wat ek kon. Ek sien toe dat die groen swembad baie mooi inpas by die groen van my sussie se trourok. Al hoe ek ’n skoot van al twee kon kry, was om tussen die dominee en die bruidspaar te gaan staan en die foto te neem. Dink Oupa dit was reg van die dominee om my met ’n waterbottel oor die kop te slaan en te sê: “Kan jy nie sien ek is besig om te preek nie?”

Beste Dirkie, kan jy asseblief vir Oupa die dominee wat jou sussie se troue gedoen het se selfoonnommer kry? Oupa wil hom graag bel en hom gelukwens met sy optrede. Oupa was al baiekeer lus om iets soortgelyks te doen met die mense wat so orals en altoos besig is om foto’s met hul selfone te neem, maak nie saak hoe gewyd of ernstig die oomblik is nie. Oupa het al begin dink dat mense dink dat iets nie gebeur het as dit nie as ’n foto of video op hul selfone vasgelê is nie. Hoekom kan mense nie net in die oomblik wees en nie op die skerm van ’n selfoon nie? En waar is die respek? Dis by Oupa se geslag ingedril (dikwels met behulp van ’n rottang!) dat jy op aandag staan as jy jou land se volkslied sing. Oupa was nou die dag by ’n rugbytoets en toe die volkslied gesing word, was 80% van die mense besig om dit met hul selfone op te neem terwyl hulle ’n panoramiese video van die ganske stadion inkry!

Oupa het nou die dag amper die pipperellakoors gekry tydens die begrafnisdiens van ’n dierbare tannietjie. Oupa sien haar man is heeltyd met sy selfoon besig om foto’s te neem van die blomme, die kis, die kansel, die begrafnisblaadjie. Oupa laat die omie maar begaan, maar Oupa het dit amper verloor toe die omie na hom toe kom en sê: Ek sien julle het Wi-Fi in die kerk. Wat is die password? Toe Oupa ontsteld sê, My magtig man. Dis jou vrou se roudiens! toe vra die omie: Is dit alles in kleinletters?

Share via
Copy link
Powered by Social Snap