Naïewe Nellie van Nababeep vra: Beste Oupa Stoep, hier in ons ou dorpie is daar nie baie vrygeselle nie en ek was nou onlangs vir die eerste keer op ’n afspraak met die nuwe gifsmous op die dorp. Ons het gaan fliek en toe ek my weer kry, het hy my hand tydens die hele fliek vasgehou. Dink Oupa dat hierdie onbesonne daad van hom gaan maak dat ek nou swanger is?

Beste Nellie, as die smous niks meer gedoen het as om jou hand vas te hou nie, is Oupa redelik seker dat dit nie nodig gaan wees dat jou ouma begin babakleertjies hekel nie. Maar Oupa stel voor dat jy dalk vinnig iets soos dr Jan van Elfen se boek Wat elke meisie moet weet in die hande moet kry en in detail moet bestudeer, want iets soos ’n swangerskap kan ’n mens nogal onverhoeds betrap.

Oupa onthou dat daar ’n meisie saam hom in matriek was wat een dag baie opgewonde by die skool aangekom het, want sy het die vorige dag ’n sussie ryker geword. Niemand het geweet dat die sussie op pad was nie. Haar ma was maar ’n lywige tannie en sy het gedink dat sy maar net deur haar oorgangsjare gaan toe sy ’n bietjie mislik voel in die oggend en ander snaakse simptome het. Toe kry sy ’n verskriklike maagpyn, so erg dat sy dokter toe gaan. Die dokter het, na ’n baie ligte ondersoekie, vir haar die goeie nuus meegedeel dat sy in kraam is. Later die nag is haar laatlammetjie gebore, 17 jaar na die ouer sussie die lewenslig aanskou het.

’n Huisdoktervriend van Oupa vertel dat op ’n dag ’n ewe lywige jong dogter by hom instap en vir hom vertel dat sy nierstene het wat haar baie opkeil. Die dokter ondersoek haar en vra haar of daar nie ’n moontlikheid is dat sy swanger kan wees nie, want hy hoor definitief ’n tweede hartkloppie. Sy sweer hoog en laag dat dit onmoontlik is en dat sy baie seker is dat dit net ’n niersteen is, want sy was by ’n homopaat wat dié diagnose gemaak het. Die dokter het haar laat opneem in die hospitaal en ’n paar ure later het die jonge dogter geboorte geskenk aan ’n fris en gesonde “niersteen”. Haar kêrel, wat nie op die hoogte van sake was nie, het ewe vrolik die aand vir sy meisie kom kuier. Toe hy by die deur instap en haar sien met ’n baba in die arms, het hy laat spaander, en hy is nooit weer gesien nie…

Asseblief, liewe Nellie, lees die ou boekie. Oupa wil jou graag ’n pienkvoet verrassing spaar!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap