Gefrustreerde Gabarella van Garsfontein skryf: My Oumie het die Desembervakansie by ons kom deurbring. Ek het verwag dat sy met my gaan raas omdat ek te veel tyd op my selfoon spandeer, toe is dit andersom! Oumie was soos in heeltyd, vandat sy opgestaan het totdat sy gaan slaap het, besig op haar selfoon. Kan Oupa Stoep vir my sê of dit normaal is?

Beste Gabarella, Oupa hoor jou frustrasie! En Oupa deel dit, want hy sien die selfoonobsessie by so baie van sy tydgenote en by mense wat selfs nog baie ouer as hy is. Oupa het al begin dink dat ’n persoon se selfoongebruik die eerste teken is dat daardie persoon begin kêns word, soos ons in die ou dae gesê het.

’n Selfoon word vir die oumas en oupas, maar veral vir die oumas, amper soos ’n pasgebore babatjie wat heeltyd aandag moet kry. As die baba die geringste geluidjie maak, gee jy mos onmiddellik aan hom aandag, en as hy nie ’n geluid maak nie, kyk jy kort-kort of hy nog lewe. Nou lyk dit asof die selfoon die senior burgers se surrogaatbabas word: As hy ’n geluid maak, gee jy dadelik aandag, en as hy te lank stil is, gaan kyk jy of daar dalk ’n probleem is hoekom hy so stil is.

Van geluide gepraat: Omdat die gehoor baiekeer afneem soos die jare toeneem, is daar net een verstelling vir die ouer mense se selfoon se volume: KLIPHARD – en baiekeer ook nog met die luidspreker aan. Oupa Stoep het al menigmaal amper sy vals tande ingesluk as iemand se selfoon in ’n geselskap uitbulder: DRUK DIE GROEN KNOPPIE! of ’n geluid maak soos ’n klipspringer wat geboorte gee aan ’n ystervark om aan te dui dat daar ’n nuwe boodskap is…

Dit gebeur ook elke paar sekondes, want Oumie behoort aan miljuisende groepies op WhatsApp: van ’n hekelgroepie, deur een met raad vir spatare tot een vir die mense in haar gang in Huis Groeneweide. En die een probeer meer boodskappe aanstuur as die ander. So PIEP Oumie se foon konstant en as hy PIEP, tel sy hom op al het sy ’n vurk vol kos halfpad na haar mond toe gehad. As daar ’n prentjie is, moet Oumie hom vir almal aan tafel wys; as daar ’n skattige video is, moet hy dadelik (volume vol oop!) gespeel word. Nou verdwyn Oumie in haar eie selfoonwêreldjie, want terstond moet dit was sy gesien het, met al wat leef en beef gedeel word. Hulle antwoord weer met ’n laggende gesiggie, ’n hartjie of biddende handjies, afhangende van die inhoud van die boodskap.

En behoede jou as Oumie eers Facebook en Instagram ontdek het. Ouer mense ly in die ergste graad aan VOUM (Vrees Om Uit te Mis) en daarom moet daar elke paar millisekondes gekyk word of iemand nie iets waarvan hulle dink hulle moet weet, geplaas het nie. En as Oumie op so iets afkom, moet dit onmiddellik met almal in die kamer gedeel word. Al staan Stefaansie op daardie tydstip op sy knieë om Stoffelina om haar hand te vra, sal Oumie uitroep: Kyk net hier – hulle het in Noord-Mongolië afgekom op ’n muskeljaatkat met drie koppe!

So, liewe Gabarella, Oupa het nie eintlik vir jou raad nie. Jy kan een van twee dinge doen: al die ikone op Oumie se foon elke oggend herrangskik sodat daar ’n paar uur se vrede is terwyl sy dit probeer uitsorteer, of jy moet maar daarmee vrede maak dat, voor jy jou oë uitvee, jy ook in Oumie gaan verander. Sterkte!

Share via
Copy link
Powered by Social Snap