Zumpie Zorgman van Zeekoevlei skryf: Beste Oupa Stoep, ek is ’n baie positiewe mens en glo ’n mens moet altyd iets positiefs probeer kry selfs uit die slegste van ervarings. Hierdie Covid-storie is vir ons almal sleg, maar dit het my geleer dat ons tegnologie baie beter kan gebruik, veral om met mekaar te kommunikeer. Dink Oupa nie die Kerk moet hierdie les ook leer en dinge soos Zoom inspan as ons vergaderings wil hou nie? Ons het in die werkplek gesien hoe goed dit kan werk. Dink net hoeveel tyd en geld die Kerk sal spaar as die kerkraad, ring en selfs die Algemene Kerkvergadering per Zoom of so iets vergader!

Beste Zumpie! Oupa hou van ’n positiewe mens soos jy wat in verleenthede geleenthede kan raaksien. Oupa hou ook van jou idee, veral as hy dink dat hy, as voorsitter van die kerkraadsvergadering, die mag sal kan hê om Ouderling Genis te kan stom maak net deur ’n knoppie te druk wat hom mute. ’n Mens kan mos altyd daarna sy beswaardheid besweer deur die tegnologie die skuld te gee…

Dit is ook inderdaad so dat sulke langafstand elektroniese vergaderings baie meer tyd-effektief sal wees. Niemand hoef kerkgebou toe te ry nie, en Sarel Skriba sal ook nie so hoef te baklei met die manne wat besig is om vars lug deur ’n filter in te suig, om hulle in die vergadering te kry nie. Elke kerkraadslid se eggenoot/eggenote sal ook moet sorg vir sy of haar koek en koffie na die vergadering, en by die ringsvergadering sal die susters nie hoenderpastei of bobotie of lasagne hoef te maak vir die honger afgevaardigdes nie.

Oupa voorsien wel ’n paar probleme. Hy weet nie of Oudste Abel se Nokia 3310 die Zoom-ding sal kan hanteer nie, en iemand soos Diaken Ben Babelaas sal die geleentheid kan aangryp om sy foon se kamera af te sit en gou onder die koffietafel in te duik vir ’n bietjie versterking halfpad deur die vergadering.

Teen die tyd dat die volgende Algemene Kerkvergadering plaasvind, sal tegnologie seker al baie verander het, maar soos dit nou staan, gaan dit nogal ’n perd van ‘n ander kleur wees om meer as 600 mense so verbind te kry dat hulle almal saam aan een vergadering kan deelneem. Oupa wonder ook hoe so ’n langafstand-stemmery sal werk as daar ’n voorsitter, ensovoorts, verkies moet word. Oupa hoor dat die oom wat die stemmery in die verlede hanteer het, nogal ’n moeilike entjie mens kan wees…

Sulke Zoom-tipe vergaderings bring nuwe uitdagings na vore wat ’n mens deeglik sal moet navors en verreken voor ’n mens iets soos ’n Algemene Kerkvergadering op dié wyse probeer hou. Oupa vertel graag van die volgende ware gebeurtenis ter illustrasie.

’n Advokaat moes nou die dag ook so per Zoom in ’n hooggeregshofsaak optree. Almal meld aan in hul formele drag, togas en al, voor hul rekenaars. Dié advokaat stel sy rekenaar op die stoep van sy huis op, weg van enige huishoudelike geraas of steurnisse. Soos dit maar gaan, is die klank nie altyd van die beste nie, en die regter sukkel om hom te hoor. In die taal van die hof vra hy toe: Can you hear me, my lord? Maar die regter sukkel steeds. Hy vra harder: Can You Hear Me, My Lord? Steeds sukkel die regter om te hoor. Naderhand skreeu hy: CAN YOU HEAR ME, MY LORD? So kry hulle darem die verhoor afgehandel.

Later die middag kom sy buurman oorgestap en sê: Ou Piet, ek het altyd gedink jy is ’n Hervormer. Wanneer het jy dan oorgegaan na een van hierdie charismatiese kerke?

Share via
Copy link
Powered by Social Snap