Predikante uit die Ring van Magalies het onlangs byeengekom vir ’n dag van gesprek, saam leer en wedersydse bemoediging. Die geleentheid, aangebied deur Gemeente Witfontein, was die inisiatief van di Janine Bevolo-Manders en Jimmy Manders. Dit was ’n geleentheid waar predikante saam kon nadink oor die uitdagings en geleenthede van gemeentebediening.

Tydens die byeenkoms is ’n opleidingsprogram, wat deur dr Thinus van Staden ontwikkel is, bespreek. Hierdie program is reeds suksesvol in Gemeente Montana geïmplementeer. In die afgelope jaar is sowat 18 lidmate opgelei en toegerus. Die program is gebaseer op die droom om ’n Efesiërs 4-gemeente te wees waar elke lidmaat toegerus word vir diens en die liggaam van Christus so opgebou word. Die program help lidmate om hul eie roeping raak te sien en rus hulle toe om met groter selfvertroue in die gemeente en gemeenskap diensbaar te wees.

Die gesprek het vertrek vanuit die oortuiging dat bediening nooit net die verantwoordelikheid van die predikant is nie. Die Nuwe Testament skets juis ’n prentjie van die kerk as ’n liggaam waarin elke gelowige ’n unieke gawe ontvang het en geroep word om diensbaar te wees. Die uitdaging vir gemeentes is daarom nie bloot om vrywilligers vir take te werf nie, maar om mense te help ontdek hoe God hulle reeds toegerus het om ’n verskil te maak.

Die opleiding strek oor sewe weke en sluit verskeie temas in. Dit sluit ’n teologiese onderbou sowel as praktiese riglyne en vaardighede in. Daar word gesels oor riglyne vir hospitaalbesoeke, gesonde grense, die verskil tussen simbiose en differensiasie, die grense van ons kundigheid en mandaat, asook die bepalings van die POPI-wetgewing.

Die program fokus op die opleiding van lidmate wat ’n besondere hart vir mense het en bereid is om deur die jaar aanvullende besoeke te doen. Hierdie span funksioneer in noue samewerking met die kerkraad. Terwyl ouderlinge steeds hul opsigwerk doen en diakens hul barmhartigheidswerk verrig, vorm hierdie toegeruste lidmate ’n waardevolle uitbreiding van die gemeente se pastorale bediening.

Hoewel elke gemeente haar eie unieke konteks, uitdagings en gawes het, bied die program ’n bruikbare raamwerk wat maklik aangepas kan word om by die plaaslike behoeftes aan te sluit. Dit is nie bedoel as ’n rigiede resep nie, maar eerder as ’n praktiese templaat wat gemeentes help om na lidmaatbemagtiging te kyk. Deur die inhoud en werkswyse vir hul eie omstandighede kreatief te ontwikkel, kan gemeentes ’n kultuur vestig waarin gelowiges besef dat bediening nie tot ampsdraers beperk is nie, maar die roeping van die hele geloofsgemeenskap is.

Hierdie inisiatief dien ook as ’n uitnodiging aan ander ringe om soortgelyke toerustings-geleenthede aan te bied. Indien ringe hul kennis, ervaring en goeie praktyke met mekaar deel, word die Kerk as geheel verryk. Predikante word daarom ook aangemoedig om opleidingsgeleenthede en byeenkomste van ander ringe by te woon. Só word nuwe perspektiewe ontdek en waardevolle netwerke gebou wat uiteindelik tot voordeel van gemeentes regoor die Kerk strek. Saam kan ons by mekaar leer en mekaar toerus om gelowiges al hoe beter vir hul roeping in God se koninkryk te bemagtig.