Formidabel. ’n Woord wat ’n mens normaalweg assosieer met iemand wat die liggaamsbou het van ’n Eben Etzebeth. Maar formidabel kom ook in kleiner gestaltes. Hiervan is Tessa Oppermann ’n uitmuntende voorbeeld.

Tessa is in Maart 2004 deur dr Paul de Beer op kontrakbasis aangestel as Proefleser by die destydse SENTIK, maar is na ’n jaar permanent aangestel as Produksiebestuurder. Sy het op 31 Mei 2020 op 65 jaar afgetree, maar haar dienste is sedertdien op kontrakbasis behou. Sy verlaat op 31 Oktober 2024 finaal die diens van die NHKA se Sinodale Dienssentrum.

In die meer as 20 jaar wat Tessa as produksiebestuurder opgetree het, het sy saamgewerk met 23 redakteurs van die publikasies van die Kerk, te wete Konteks, Die Hervormer, Blitspos, die Bybelse Dagboek, die Almanak en die Tydskrif vir Hervormde Teologie. Sy het ook die versorging gedoen van die Kerk se kategesehandleidings, Bybelstudies en ander ad hoc-publikasies, soos die Diensboek en die handleiding vir die Welstandsprogram vir predikante en hul gesinne. Sy het ook nege jaar lank by die Hervormde Teologiese Kollege ’n taal- en kommunikasiekursus vir teologiestudente aangebied.

Dis sekerlik onmoontlik om te bepaal, maar in dié tyd moes daar letterlik miljarde woorde onder Tessa se wakende oë deurgeloop het, woorde wat sy altyd gesorg het net in die keurigste en korrekte Afrikaans gepubliseer sou word. Hierbenewens het sy gesorg dat dié magdom publikasies stiptelik betyds verskyn, behalwe vir die kere dat trae skrywers haar in die steek gelaat het. Dis helaas ’n kwaal waaraan baie dominees, ekself inkluis, ly.

Tessa het ’n ensiklopediese kennis van die Kerk, haar mense en die ritme van gebeure in die Kerk. Sy sal die Almanak nie net proeflees nie, maar ook uitwys wanneer “Ds” intussen “Dr” geword het of wanneer iemand se van verander het. Noukeurigheid is voorwaar Tessa se middelnaam!

Sy was die afgelope klompie jare alleen verantwoordelik vir die inhoud van Blitspos. Die weeklikse reëlmaat waarmee hierdie belangrike publikasie verskyn, is meedoënloos. Tessa het gesorg dat Blitspos weekliks relevant bly, en ek het persoonlik groot waardering vir die gebede van die week en die gedigte wat altyd kosbaar was.

Ons wens Tessa en haar man, Japie, net die beste toe vir die toekoms. Ons gaan haar vriendelikheid, hulpvaardigheid en werkvermoë mis en veral ook die duisende woorde waarmee sy geseën is, wat sy gesukkel het om in gesprekke met haar op te gebruik!

(Ds Etienne Fourie is voorsitter van die Komitee vir Kerklike Kommunikasie en subredakteur van Die Hervormer en Blitspos)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap