TraumaNetwerk is ’n inisiatief wat ontstaan het toe kerkleiers hul kommer uitgespreek het oor die trauma wat landbouers en hul families daagliks in die gesig staar. Uit die staanspoor was dit uit gesprekke met landbou-organisasies duidelik dat nie alleen boere en hul families dringend hulp benodig nie, maar ook plaaswerkers.
Die gesprek het baie vinnig momentum gekry en kort hierna het die NG Kerk, Gereformeerde Kerke, Afrikaanse Protestantse Kerk, Afriforum se Traumaeenheid, TIRASA en CPSC deel geword van die nuwe inisiatief. Landbou-organisasies sluit in TLU SA, AgriSA en SAAI.
TraumaNetwerk is nie ’n nuwe organisasie nie. Ons het nie kantore of ’n bankrekening nie. Ons is presies wat die woord sê, die vorming van ’n netwerk van mense wat kragte saamspan om mense wat trauma beleef het, te ondersteun.
Dit is veral op die verafgeleë platteland dat mense nie maklik toegang het tot traumaberading nie. Daarom het ons, nadat verskeie opsies oorweeg is, besluit om die TraumaApp daar te stel waar slagoffers en hul naasbestaandes toegang kan kry tot inligting oor trauma, asook die kontakbesonderhede van traumaberaders wat oor die land heen beskikbaar is om hulp te verleen.
Nie een van hierdie beraders staan in diens van TraumaNetwerk nie, maar het wel positief gereageer op die uitnodiging om hul inligting beskikbaar te stel via ons netwerk. Elkeen van daardie beraders is verantwoordelik aan hul eie opsigliggame om hul werk empaties, eties en professioneel te verrig. Soos wat TraumaNetwerk beter bekend word, vertrou ons dat meer en meer beraders deel sal vorm van hierdie netwerk. Kontakbesonderhede is op die TraumaApp en ons Facebookblad beskikbaar.
Die TraumaApp kan gratis afgelaai word by www.traumanetwerk.co.za. Klik regs bo “Installeer Trauma Netwerk” om dit af te laai op jou foon.
Indien jy as berader graag betrokke wil raak, kontak Karen Breedt gerus by karen@nhk.co.za. Indien jy enige navrae het oor TraumaNetwerk self, kontak Thinus van Staden by 084 589 7035.
(Dr Thinus van Staden is leraar in Gemeente Montana)