Van Junie tot Julie 2022, binne ongeveer twee weke, is twee van die NHKA se emerituspredikante oorlede.

Ds JJP (Kobus) Müller (82) is Maandag 20 Junie oorlede as gevolg van hartversaking. Die roudiens op Vrydag 24 Junie vanuit Gemeente Swartkop is gelei deur ds Dries Beukes. Ds Müller is in 1968 georden en was naas die gemeentes (Potchefstroom-Studente en Swartkop) waar hy as predikant voortreflike bediening gedoen het, ook van 1977 tot 1988 Weermagkapelaan in die SA Weermag. Hy het in 2004 emeritaat aanvaar. Hy was ’n besonder kleurvolle persoon met die vermoë om beskrywende taal te gebruik. Ons innige simpatie gaan aan mev Jubie Müller, sy kinders en hul familie.

Ds AS (At) van den Berg (81), lidmaat van Gemeente Pretoria-Oos, is Dinsdag 5 Julie weens kanker oorlede. Die roudiens op Vrydag 8 Julie in Pretoria-Oos is gelei deur ds Hannes van der Merwe. Ds Van den Berg was van 1968 tot 1976 predikant in die GKSA, in Belfast-Stoffberg en Edenvale; hy is in 1983 in die NHKA georden en het daarna gedien in gemeentes Springs, Randpoort en Sionspoort. Hy het in 2005 emeritaat aanvaar. Ons innige simpatie gaan aan mev Marietjie van den Berg en hul familie.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap