Die belofte van die Heilige Gees

God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. God het besluit en dit vooraf bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. (Handelinge 2: 22-24)

God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. (Handelinge 2: 32-33)

O Heilige Gees, o heilige God,
U troos ons in ons diepste nood.
U’t uitgegaan van Vader, Seun,
om ons te lei, om ons te steun,
o Heilige Gees, o heilige God.

O Heilige Gees, o heilige God,
laat ons al meer gehoorsaam word.
Gee ons meer liefde vir u Woord –
ons almal wat aan God behoort.
o Heilige Gees, o heilige God.

(Louwrens Strydom,
Gesang 434: 1-2, Liedboek van die Kerk)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap