Die Belhar-belydenis is nie die Hervormde Kerk se belydenis nie. Maar die Belhar-belydenis het ook die Hervormde Kerk 40 jaar gelede met wesenlike teologiese vrae gekonfronteer. Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK, of World Communion of Reformed Churches in Engels) se onlangse herdenking van Belhar 40 by wyse van ’n konferensie hier in Suid-Afrika (Pretoria) het bevestig dat die Belhar-belydenis die kerk van Christus (en veral kerke met ’n Gereformeerde inslag) steeds voor wesenlike geloofsvrae stel.

Die Belhar-belydenis is in Oktober 1982 deur ’n kommissie van teoloë geformuleer en aan die sinode van die NG Sendingkerk (NGSK) voorgehou. Dit het gevolg op die Algemene Vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (World Alliance of Reformed Churches, WARC) se vergadering in Augustus 1982 wat apartheid tot belydenisvraag verklaar het en die lidmaatskap van die NG Kerk en Hervormde Kerk (NHKA) opgehef het. Albei hierdie kerke het destyds nog die politieke beleid van apartheid teologies geregverdig op grond van God se sogenaamde skeppingsorde en die swakheid van sommige lidmate.

In daardie jare het die Hervormde Kerk nog ’n Kerkwet met die berugte Artikel III gehad:

Die Kerk, bewus van die gevare wat vermenging van blank en nie-blank vir altwee groepe inhou, wil geen vermenging in sy midde toelaat nie, maar beoog die vorming van eie volkskerke onder die verskillende volksgroepe, in die oortuiging dat die bevel van die Here – ‘Maak dissipels van al die nasies’ Matteus 28:19 – die beste tot sy reg sal kom en dat die eenheid in Christus deur so ’n werkverdeling nie geskaad sal word nie.

Tot die gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika behoort blanke persone …

En, hoewel Artikel III slegs oor lidmaatskap gehandel het, onthou ek geleenthede uit my kinderjare toe swart mense verhinder is om begrafnisse of huwelike by te woon, en hoe hulle by geleentheid versoek is om gewone eredienste te verlaat. Aan die ander kant het niemand ’n oog geknip toe ’n span gimnaste uit kommunistiese Rusland by geleentheid ’n erediens in ons gemeente bygewoon het nie.

Die sinode van die NG Sendingkerk het in 1982 die belydenis van Belhar eers na gemeentes verwys, waarna dit na deeglike bespreking op die sinode van 1986 as belydenis aanvaar is. Die Belhar-belydenis is, net soos ouer kerklike belydenisse soos die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Barmen-verklaring, deur ’n begeleidende brief vergesel. In die brief verduidelik die opstellers dat hulle geen groepsbelange wil dien nie, maar dat hulle daarvan oortuig is dat die waarheid van die evangelie van Jesus Christus op die spel is. Hulle benadruk dat hulle nie beskuldig nie, maar pleit vir versoening.

Hierop volg die belydenis van Belhar self, wat in vyf artikels saamgevat is: Die eerste artikel bevestig die geloof in die drie-enige God wat self die kerk tot stand bring. Dan volg drie sentrale artikels oor die kerk en haar rol in die wêreld: Artikel 2 handel oor die eenheid van die kerk, artikel 3 oor versoening in kerk en samelewing en artikel 4 oor vrede en geregtigheid in die wêreld. Die vyfde artikel roep die kerk op om te doen wat bely is, al sou dit tot vervolging lei. Die belydenis word met ’n kort lofrede aan God afgesluit. (Die Belhar-belydenis self is beskikbaar by https://kerkargief.co.za/doks/bely/GD_Belhar.pdf).

Met die eerste lees lyk die inhoud van die Belhar-belydenis nie opspraakwekkend nie, veral nie vandag nie. Maar wat Belhar doen, is om die belydenis oor eenheid, versoening en geregtigheid (artikels 2 tot 4) ten nouste met mekaar te verbind en te stel dat die een nie sonder die ander kan realiseer nie.

Die eenheid van die kerk is nie net ’n gawe van God en ’n gegewe nie, maar ook ’n opdrag; daarom kan ware geloof die enigste voorwaarde vir lidmaatskap van die kerk wees en verwerp Belhar enige leer wat die natuurlike verskeidenheid so verabsoluteer dat dit die sigbare eenheid van die kerk verbreek of selfs lei tot ’n aparte kerkformasie.

Verder het God die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus aan sy kerk toevertrou en die kerk geroep om vredemakers te wees. Hierdie boodskap word egter ongeloofwaardig gemaak deur enige leer wat (selfs) in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus belemmer en van krag beroof.

Ten slotte het God Homself geopenbaar as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring, en as Een wat Hom oor die noodlydende, die arme en die veronregte ontferm. Hy roep sy kerk om Hom hierin na te volg; daarom móét die kerk teenoor magtiges en bevoorregtes getuig en enige ideologie wat vorme van veronregting legitimeer, verwerp.

Só het die NG Sendingkerk met die Belhar-belydenis die teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid met ’n deeglike Bybels gefundeerde belydenis gekonfronteer. Die Belhar-belydenis is met verloop van tyd deur ander Gereformeerde kerke oor die wêreld heen aanvaar – soms as ’n hedendaagse belydenis naas die ouer kerklike belydenisse, soms as ’n geloofsverklaring, en soms bloot as ’n belangrike teologiese dokument wat bestudeer moet word en waarteenoor enige kerk hulle leer en lewe moet verantwoord.

Met die aanvaarding van Besluit 54 van die 70ste Algemene Kerkvergadering, en die besluit van die Buitengewone Algemene Kerkvergadering in 2011 het die Hervormde Kerk die essensie van die Belhar-belydenis erken. Dit het die deure oopgemaak dat die NHKA weer in die ekumeniese kring van die WGGK opgeneem kon word.

Maar die Hervormde Kerk het nog nooit grondig besin oor die inhoud en implikasies van die Belhar-belydenis nie. Miskien is dit nou – ná 40 jaar – nodig dat ons dit doen.