Yuval Noah Harari publiseer in September 2024 ’n boek met die titel Nexus: A Brief History of Information Networks from the Stone Age to AI.
Harari vra in die laaste hoofstuk van sy boek of iemand jou al ooit versoek het om te bewys dat jy nie ’n masjienmens (robot) is nie deur op foto’s te klik waarin onder andere katte of verkeersligte verskyn. Dit het vir my, en ek glo baie ander, na ’n sinnelose oefening gelyk. Elke klik op die foto van ’n kat is egter in ’n netwerk gelaai en kunsmatige intelligensie (KI) is in die proses met inligting gevoer. Stadig maar seker kon KI ’n duidelike beeld vorm van hoe katte of verkeersligte in al hul vorme lyk. Die beste algoritmes kon desnieteenstaande teen 2010 slegs 72% van objekte of wesens korrek identifiseer. In 2012 wen die AlexNet-algoritme ’n toekenning vir ’n verstommende 85% met die elektroniese identifisering van bepaalde objekte en sake. In 2015 het die suksessyfer reeds by 96% getrek.
Die vermoë om ’n voorwerp of mens se voorkoms te lees en vas te stel wie of wat dit is, het later selfs daartoe gelei dat Irannese en Israeliese magte hierdie tegnologie kon gebruik om persone wat nie in ’n bepaalde gebied tuishoort nie, te identifiseer. Hierdie onwelkome gaste kon dan verwyder word. Al die groot moondhede sien KI tans as ’n sleutel tot ware seggenskap of mag.
Hierdie paar feite uit Harari se boek illustreer dat dít wat so onlangs soos tien jaar gelede, relatief nuut was en wat op daardie stadium ’n klein persentasie van die wêreldbevolking se aandag getrek het, vandag ou nuus is.
Byna elke Hervormde predikant en die meeste van ons lidmate is ten minste op ’n eerste of tweede vlak met KI vertroud. Die advertensies in kerklike publikasies en op sosiale media vertoon dikwels byna identiese trekke. Almal gebruik soortgelyke rympies en ritmes om aksies en produkte mee te bemark. Die rede hiervoor is eenvoudig – KI se hulp word ingespan vir die ontwerp daarvan.
Tydens ’n onlangse VTT-kursus het die aanbieder gestel dat dit wat vandag ons aandag prikkel en so rewolusionêr lyk, binne die volgende twee jaar uit die oude doos sal wees.
Verandering en vernuwing vind tans teen ’n ongekontroleerde en duiselingwekkende spoed plaas. Gewone mense het egter dikwels tyd nodig om stil te sit en om gebeure en uitvindings te verwerk en te internaliseer. Stilsit het tans die lastige gevolg dat jy binne enkele maande reeds ligjare agter sal wees. Die uitputtende proses van byhou het die geneigdheid om sommige mense moedeloos te maak. Die pas waarteen inligting gegenereer word en beskikbaar raak asook die gesprekke wat danksy hierdie inligting op elke kerklike terrein ontstaan, laat lidmate soms aan inligtingsuitputting (information fatigue) ly. Dit hou deels verband met te veel opsies te make. Een gevolg van die inligtingsontploffing is ook dat die brein sukkel om die vloedgolf van inligting te absorbeer en verwerk. Te veel opsies lei tot besluiteloosheid, geestelike uitputting, selfs ’n afname in produktiwiteit. Om vals nuus van egte nuus te onderskei, raak ingewikkeld. Oppervlakkige, nie-nagevorsde kennis word daagliks van die een persoon na die volgende persoon oorgedra.
Die Barna-groep het in onlangse navorsing bevind dat die deursnit lidmaat in die VSA deesdae eerder fisiese aanbidding verkies bo elektroniese aanbidding. Die massa elektroniese inligting en aanbiddingsgeleenthede wat beskikbaar is, hou wel die voordeel in dat inligting en masse beskikbaar is, maar dit vervang nie warm, hartlike kontak met medegelowiges nie. Die meerderheid lidmate vertrou ook, aldus hierdie navorsing, steeds op hul eie geestelike leiers om in verantwoordelikheid die Evangelie te verkondig.
Tog beskik ons skielik oor ’n kosbare hulpmiddel wat ons geloof kan versterk en wat ons kennis met rasse skrede kan uitbrei.
Mark Barnes deel ’n paar gedagtes hieroor. Miskien benodig ons, om mee te begin, ware wysheid. Ware wysheid begin, aldus Spreuke, met kennis van en diens aan God. Ons het ook onderskeidingsvermoë nodig om die koring en kaf van mekaar te kan skei. In die Bybelse tyd, soos onder andere verwoord in Psalm 20, het mense die risiko geloop om op perde en strydwaens te vertrou. Tegnologie help om tyd te spaar en maak deure oop wat voorheen gesluit was. Dit kan egter ook ons vertroue kaap in plaas daarvan om in ’n persoonlike verhouding met God te staan en ook op sy Gees se onderskeiding te vertrou. Ons inneem van geestelike inligting begin tog steeds by die Woord van God – die bestudering en oordenking daarvan. Ons het mekaar werklik nodig. Ons is gelowiges wat deel in die boodskap van hoop en bevryding. Deur hande te vat, saam te ontdek en ontgin, verryk ons mekaar se wêrelde. Bowenal staan die opdrag om nederig te bly, vas. Ons is immers volgelinge van die groot Voetwasser. Geen mens het alle wysheid in pag nie. In die paar jaar wat voorlê wag daar ongelooflike ontwikkeling en verandering en die aanpassings wat van ons gevra sal word, gaan meer wees as in enige tyd vooraf. Die belangrikste is om te bly vashou aan dit wat die kern van ons menswees is – God self. Hy bly in ’n immer veranderende wêreld die Een wat standvastigheid vir alle tye en in alle omstandighede bied.