Langs die ravyn van die Nylrivier is ’n stele gevind wat berig van ’n sewe jaar lange droogte wat oor Egipte gekom het. Die inhoud van die stele is belangrik omdat dit inligting uit die geskiedenis van die Ptolemese regeringstyd bied.

Die Ptolemese heerskappy het van 332 tot 31 vC geduur. Die inligting op die stele skets ’n breër prentjie van ’n hongersnood wat voorgekom het.

Farao Djoser

Die stele (regop plat pilaar/steen) is op die Seheleiland in die omgewing van Aswan gevind. Dit is in suiwer Egiptiese hiërogliewe geskryf en vertel ’n verhaal van groot droogte uit die regeringstyd van farao Djoser.

Djoser het 19 jaar lank regeer, van ongeveer 2686 tot in 2648 vC. Hy is veral bekend vir die oprigting van die oudste piramide in Egipte, die sogenaamde trappiramide wat by Saqqara staan. Hierdie piramide is nét 18 kilometer suid van die piramide van Giza af geleë, en 32 kilometer suid van Kaïro af opgerig. Djoser is ná sy dood ook in hierdie trappiramide by Saqqara ter ruste gelê.

Sedert 2020 is reeds meer as 300 versierde sarkofae met menslike oorskot (mummies) daarin gekry, asook diere- en voëls wat gemummifiseer is, en ’n groot aantal brons en granietbeeldjies wat aan die godin Isis gewy is.

Een van hierdie beeldjies is dié van Djoser se visier, genaamd Imhotep. Hy word in ’n sittende posisie op ’n stoel uitgebeeld, maar sonder ’n kop. Dit is nog nie duidelik of sy kop dalk afgebreek het, en of dit dalk afgekap is nie. Imhotep was in beheer van die skeepswerf en toesighouer oor die bou- en steenwerke. Imhotep se status was so ’n hoë rang dat hy met verskeie beelde vereer is.

Die granietstele

Die inhoud van die stele is op ’n granietrots uitgekap, en staan volgens die inhoud wat daarop verskyn, bekend as die Stele van Hongersnood. Die rots waarop die hiëroglifiese inskripsie verskyn, staan 2,5 meter hoog en is 3 meter breed. Die teks is in 42 kolomme geskryf.

Tussen die boonste derde en onderste tweederdes van die inskripsie loop ’n natuurlike skeur in die rots. Dié breuk was reeds daar toe die inskripsie daarop aangebring is. Ongelukkig is klein gedeeltes van die inskripsie sodanig verweer dat die inhoud van die teks op sekere plekke nie gelees kan word nie.

Bokant die teks is ’n uitbeelding uitgekap waar farao Djoser voor drie gode verskyn [sien foto © en.wikipedia.org]. Die drie gode is Khnum, die god van vrugbaarheid; Anuket, die godin van die stroomversnellings (katarakte) in die Nyl; en Satis, die godin van vrugbaarheid, jag, oorlog en die jaarlikse vloed van die Nyl.

Volgens die ontleding van die skrif en die verwering van die rots is die inskripsie in 250 vC op die graniet aangebring. Dit is dus gedurende die Ptolemese regeringstyd aangebring.

Die verhaal van die hongersnood

In die stele word vertel dat die watervlak van die Nylrivier in 2700 vC baie laag gebly het as gevolg van ’n sewe jaar lange droogte en dat daar nie vloede was wat afgekom het nie. Dié verskynsel het daartoe gelei dat ’n groot krisis in Egipte ontstaan het. Die graan het tekorte ontwikkel, saad het uitgedroog, mense het mekaar vir noodsaaklike middele beroof, en tempels en heiligdomme het gesluit.

Ten einde ’n oplossing vir die situasie te kry, het die koning besluit om Imhotep te raadpleeg in die hoop om die situasie om te keer. Imhotep het daarop, geïnspireer deur ou godsdienstekste, na ’n tempel in die stad Ain Shams (Ou Heliopolis) gegaan waar hy ontdek het dat die antwoord in die bron van die Nylrivier by die stad Yebu (Aswan of Elefantine) lê.

Imhotep het dié oplossing aan Djoser gaan oordra. Die farao het daarna in ’n droom gesien dat die god van vrugbaarheid, Khnum, met hom praat en opdrag gee dat hy die tempel van Khnum moet herstel en weer aktief moet maak. As hy dié opdrag gehoorsaam, sal die Nyl weer in vloed gaan. Khnum was benewens die god van vrugbaarheid ook deur die Egiptenare beskou as die god wat mense uit klei gemaak het. Kort nadat die tempel van Khnum in ere herstel is, het die Nyl weer in vloed afgekom.

Godsdienstige konflik

Baie Egiptoloë heg nie veel waarde aan die historiese inhoud van die verhaal nie en beskou die storie as niks meer nie as ’n interessante fiktiewe verhaal.

Onderliggend aan die verhaal lê daar ’n bittere godsdienstryd tussen die priesters van Khnum en die geestelike leiers van die godin Isis. Hierin lê nog ’n ander storie.

Volgens die mense van Ou Egipte is Isis beskou as die bron van die Nylwater. Nadat die Nyl weer in vloed gegaan het, het die geestelike leiers van Isis aanspraak gemaak op die godsdienstige beheer van ou Egipte. Dié aanspraak het tot groot wrywing met en jaloesie van die Khnum-priesters gelei, en uiteindelik tot die gravering van die inskripsie op die rots.

Egipte is bekend vir gereelde droogtes. Daar bestaan geen historiese bevestiging dat die storie in die Stele van Hongersnood enigsins waar is nie. Egiptoloë is verder ook daarvan oortuig dat die verwysing na ’n sewe jaar tydperk van droogte en hongersnood simbolies verstaan moet word en dus eerder verwys na die voleinding en afhandeling of voltooiing van ’n tyd.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)