Nuwe ontdekkings wat by die Qumrangrotte langs die Dooie See gedoen is, het tot groot opgewondenheid gelei by navorsers van die geskiedenis tussen die eerste eeu vóór en eerste eeu ná Christus in Judea. Die Qumrangrotte is 20 kilometer oos van Jerusalem en langs die westelike deel van die Dooie See geleë.

Van die inligting is só waardevol dat dit selfs daartoe kan bydra dat sekere interpretasies oor die geskiedenis van Jerusalem herskryf sal moet word.

Die groot ontdekking

Die ontdekkings in die grotte het toevallig gebeur. Die Israelse Raad vir Oudhede (IAA) het kennis geneem van artefakte wat skielik op die swartmark verkoop word. By nadere ondersoek het hulle besef dat hierdie artefakte op onwettige wyse by die Qumrangrotte verkry is.

Hulle het daarna agtergekom dat grotstropers in en uit die Qumrangrotte aan kabels abseil, wat beteken dat hulle iets daarbinne moes ontdek het. In Israel behoort alle argeologiese oudhede aan die staat, en dit word beheer deur die IAA. Enige verwydering of verskuiwing van ’n artefak moet met die toestemming en onder toesig van die IAA geskied. Hierdie grotstropers het geen toestemming daarvoor gehad nie en het dus onwettig opgetree.

By nadere ondersoek in die grotte het die argeoloë wat deur die IAA aangestel is, toe op ’n hele aantal gróót ontdekkings afgekom. Ten einde te voorkom dat enige artefakte verlore gaan, werk verskillende spanne argeoloë dus tans teen ’n gekonsentreerde tempo deur die grotte om te verhinder dat die grotstropers op iets van waarde beslag kan lê.

 

Fragmente uit die Klein Profete

Een van die besondere ontdekkings in die grot is fragmente van tekste uit ’n boekrol wat bekend is as die Twaalf Klein Profete. Die tekste wat ontdek is, is 11 reëls wat in die profeteboeke van Nahum en Sagaria voorkom en is in twee handskrifte geskryf. Die laaste keer dat tekste uit die Twaalf Klein Profete in die Qumrangrotte ontdek en ontsyfer is, was in 1953 toe Yochanan Aharoni in die einste Gruwelgrot tekste ontdek het.

Die Dooie See-rolle is in 1947 in die Qumrangrotte ontdek en het destyds wêreldwyd groot opspraak gewek. Van die dokumente was op papirus geskryf, maar die meeste op perkamente wat goedgebreide diervelle was.

Die tekste wat ontdek is, is dié van Nahum 1: 5-6 en Sagaria 8: 16-17. Albei tekste is in Grieks geskryf, behalwe vir die woord God wat in Paleo-Hebreeus geskryf is, soos dit gedurende die Eerste Tempeltyd gebruik is. Dit is ook die geval met die tekste wat in 1953 in die grot ontdek is.

Die tekste is op perkament geskryf en het ongelukkig reeds in stukkies opgebreek vanweë die ouderdom daarvan. Met die rekonstruering daarvan moes die stukkies perkament letterlik soos ’n legkaart aanmekaar gesit word. Baie dele van die stukkies perkament het reeds verlore geraak, maar die 11 reëls van die twee boeke uit die Klein Profete kon nogtans duidelik onderskei word.

Die ontdekking van hierdie fragmente en ander geskrewe dokumente lewer ’n baie groot bydrae oor die leefwyse en godsdiens van die Joodse gemeenskap gedurende die eerste eeu vóór en die eerste eeu ná Christus. Daarmee saam werp die tipe perkament waarop die tekste geskryf is ook groot lig op die ontwikkeling van materiaal wat gebruik is om op te skryf, asook die tipe ink wat ontwikkel is om mee te skryf.

Geweefde mandjie

’n Ander waardevolle ontdekking is ’n geweefde mandjie wat in die Muraba ̔at-grot gevind is en uit ongeveer 8500 vC dateer. Hierdie mandjie word nou beskou as waarskynlik die oudste mandjie wat tot op hede in die wêreld ontdek is.

Die tydperk waaruit die mandjie dateer, staan bekend as die Neolitiese tydperk, wat gestrek het van 10 500 jaar vC tot ongeveer 1900 vC. Hierdie tydperk word beskou as die eindfase van die Steentydperk. Dit was ook die tydperk toe gemeenskappe in die Ou Nabye Ooste geleidelik begin het om boerderyaktiwiteite te ontwikkel.

Die mandjie het ’n peervormige voorkoms gehad, en die bek van die mandjie kon met ’n tou by die nek daarvan toegebind word. Dié mandjie het ’n kapasiteit van 90-100 liter. Ongelukkig was die mandjie leeg. Daar is slegs ’n bietjie grond daarin gevind. Verdere toetse wat op die mandjie gedoen gaan word, sal hopelik antwoorde bring oor wat met die mandjie gedoen is, of wat daarin vervoer is.

Die droë woestynomgewing en lae oksidasie het baie daartoe bygedra dat die mandjie nie verweer en gedisintegreer het nie.

Fragmente van die Griekse vertalings van verse uit die boeke van Nahum en Sagaria wat in die Qumrangrot ontdek is. © 2021, Shai Halevi / Israel Antiquities Authority (IAA)

Die geweefde mandjie wat by Qumran gekry is en beskou word as waarskynlik die oudste ter wêreld wat tot op hede ontdek is. Dié mandjie dateer uit ongeveer 8500 vC. © 2021, The Jerusalem Post

Muntstukke van die Joodse rebelle uit die tyd van die Bar Kochba-opstand (132-136 nC) teen die Romeine, wat in die Qumrangrot gekry is. Die slagspreuk wat op die munte gemunt is, Vir Sion, moes aan die rebelle en hul nasate ’n ywer tot trotse nasionalisme gee. © 2021, Israel Antiquities Authority (IAA)

Die Gruwelgrot

Hierdie droë toestande het ook bygedra tot die bewaring van ander artefakte wat ontdek is. Die grot waar die ontdekkings gemaak is, het bekend geraak as die “Gruwelgrot” na aanleiding van 40 skelette wat vroeër, in 1960, daar gekry is.

Binne die grot is nou ook ’n groot aantal geraamtes gekry. Die oudste is dié van ’n kind uit ongeveer 4000 vC en wie se liggaam in ’n kombers toegedraai is. Die lyfie het gemummifiseer geraak in die droë, sanderige toestande. ’n Skandering op die liggaam wys dat die kind se vel nog waargeneem kan word, en daar was ook nog hare sigbaar. Die kind, blykbaar ’n dogtertjie, was tussen ses en 12 jaar oud. Haar oorskot is gekry onder twee plat klippe wat oor ’n vlak, putvormige holte geplaas is. Die kind het in ’n fetale posisie binne die kombersie gelê. ’n Gedeelte van die kombersie het tussen haar handjies gelê asof sy dit vasgehou het.

Verder is ook 1 900 skelette in die grot gekry. Aan die tekens en merke van die skelette is dit duidelik dat daardie mense op ’n gewelddadige wyse gesterf het. Hulle was Joodse rebelle wat tydens die Bar Kochba-revolusie in 132-136 nC omgekom het. Die Romeinse soldate het hierdie groep rebelle in die grot vasgekeer en hulle almal uitgewis.

In die grot is ’n hele aantal pylpunte gekry wat uit die tydperk van die Bar Kochba-opstand dateer. Dié pylpunte was ’n relatief nuwe ontwerp van pylpunte teenoor dié wat eens gedurende die Eerste Joodse Opstand teen die Romeine in 66-73 nC gebruik is.

’n Verdere aanduiding dat hierdie skelette uit die tyd van die Bar Kochba-opstand kom, is ’n groot hoeveelheid silwer muntstukke wat in die grot gevind is. Dié muntstukke is met slagspreuke daarop gemunt, wat lees: Vir Sion. Dié soort slagspreuke was bedoel om onder die rebelle ’n gees van eenheid en samehorigheid te vestig. Verder was dit ook bedoel om onder die nasate van daardie rebelle ’n sterk nasionalisme te kweek. Die nalatenskap van die rebelle is derhalwe in slagpreuke op die munte gemunt sodat hul nasate iets moes kry waaraan hulle trots kon vashou, met die wete dat hul voorouers tot die laaste teen die vyand weerstand gebied het.

Verdere ondersoeke

Die geskiedenis en omgewing van Jerusalem word met hierdie ontdekkings in ’n nuwe perspektief gebring. Tot onlangs is nog gereken dat die geskiedenis van die stad en die omgewing tot so ver as 3500 vC nagespoor kon word. Hierdie ontdekkings en ander deurbrake wat op en rondom die Tempelberg gemaak is, voer die geskiedenis en ontwikkeling van Jerusalem en omgewing nou selfs terug tot 5000 vC.

Baie nuwe ontdekkings en deurbrake word nog verwag. Volgens argeoloë is daar nog 20 ander grotte en 25% van die Judese woestyn wat deursoek moet word vir argeologiese artefakte.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)