Prof WA (Wim) Dreyer
Universiteit van Pretoria
Tien jaar gelede (2010) het die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) besluit om ’n nuwe teologiese tydskrif tot stand te bring, waarin predikante van die Kerk hul navorsing kan publiseer. Die bedoeling was om kerklike, evangeliese en Hervormde teologie te bevorder ten dienste van die lidmate en ampsdraers van die Kerk. Die eerste uitgawe van die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT), met prof Natie van Wyk as redakteur, het op 1 Januarie 2013 verskyn. Die tema van Jaargang 1/1 was Die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Sedertdien het die THT ononderbroke verskyn. Die uitgawes van die THT is aanlyn beskikbaar by https://nhka.org/tydskrif-vir-hervormde-teologie-tht/.
Die Kerk is groot dank aan prof Van Wyk en redaksielede van die THT verskuldig, vir die toewyding waarmee die publikasie van die THT ter hand geneem is. Dr Elritia le Roux het vir twee uitgawes (2019 en 2020) as redakteur gedien, voordat sy ’n beroep na Duitsland aanvaar het. Ook aan haar ons opregte dank. In 2021 het die Kommissie van die AKV prof Wim Dreyer as redakteur aangewys. Wim Dreyer is dosent in Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria, asook hoof van die Sentrum vir Reformatoriese Teologie verbonde aan die Hervormde Teologiese Kollege (HTK). Die AKV het in 2019 besluit om die HTK uit te brei en het die Sentrum vir Reformatoriese Teologie (SRT) en die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) aan die HTK gevestig. Daarmee het die THT die verantwoordelikheid van die SRT en die HTK geword.
Die formaat van die THT sal in die toekoms ietwat anders wees. In die akademiese wêreld word die publikasie van boeke as belangrik beskou. Daarom sal die THT in die toekoms al meer in boekformaat gepubliseer word. Die gedagte is dat die bydraes in elke THT nie net as losstaande artikels gelees word nie, maar dat dit eerder soos ’n boek met ’n bepaalde tema gelees word. Toekomstige uitgawes sal monografieë sowel as versamelwerke insluit. Die ideaal is om ten minste een teologiese publikasie per jaar te laat verskyn, onder die reeksnaam Kerk en Teologie.
Hierdie eerste uitgawe onder die mashoof Kerk en Teologie handel oor Skrifbeskouing. Die klem val op Skrifbeskouing in die Hervormde Kerk. Die tema is gekies om uitvoering te gee aan besluite van die AKV; tegelykertyd is dit die regte plek om ’n teologiese reeks te begin.
Sedert die Tweede Wêreldoorlog (60 jaar gelede), was Skrifbeskouing gereeld op die agenda van die AKV. Dit is opmerklik dat die gesprek oor Skrifbeskouing telkens opvlam wanneer teologiese verskille ontstaan of wanneer die AKV kontensieuse besluite moes neem. In 2004 was ’n skuldbelydenis oor apartheid, ekumeniese verhoudings, die historiese Jesus en homoseksualiteit op die agenda van die AKV. In daardie konteks het die AKV ’n memorandum van die Kommissie van die AKV met die titel Die Bybel – God se Woord ook vir ons tyd: Gedagtes oor die Kerk se Skrifbeskouing ter hand geneem. Die memorandum was net vyf bladsye lank. Die AKV het met waardering kennis geneem van die memorandum, maar tog besluit dat ’n omvattende studiestuk oor Skrifbeskouing moet verskyn (NHKA 2004, Notule AKV bl 20). Die opdrag is gedeeltelik tot uitvoer gebring met die populêr-wetenskaplike publikasie van dr Gert Malan, Om die Bybel beter te verstaan, wat in 2008 by SENTIK verskyn het. Die 72ste AKV (2019) het nogmaals besluit dat omvattende studiewerk oor Skrifbeskouing gedoen moes word. Daaraan wil hierdie publikasie voldoen.
Sommige van die hoofstukke in hierdie publikasie het reeds voorheen in ander teologiese joernale verskyn, onder andere in die Hervormde Teologiese Studies of in die Tydskrif vir Hervormde Teologie. Uiteraard moes daar ’n keuse gemaak word. Bydraes is ingesluit wat iets van die historiese ontwikkeling weergee, maar ook in gesprek tree met ’n groot getal Hervormde teoloë. Die skrywers se breedvoerige verwysing na publikasies van ander Hervormde teoloë gee ’n historiese en teologiese oorsig oor Hervormde Skrifbeskouing.
Vanweë die omvang, moes die bydraes verkort en redaksioneel verwerk word. Die redakteur aanvaar volle verantwoordelikheid vir die redigering van die verskillende bydraes. Die hoofstukke wat reeds voorheen gepubliseer is, word met die nodige toestemming en erkenning van die outeur en uitgewers aangebied. Die redaksie hoop dat hierdie publikasie die kerklike gesprek oor Skrifbeskouing sal bevorder.