Efesiërs 2: 1-10

Die restourasie van meubels, huise of motors is ’n fyn kuns. Om iets te restoureer sodat dit presies kan wees soos wat dit oorspronklik was, vra dat ek die nodige kennis sal hê van hoe dit oorspronklik gelyk het en dan ook die vaardigheid het om dit te kan doen. Baie mense het die talente om meubels of huise of karre se nostalgiese verlede te laat herleef.

Ons lewe lyk dikwels soos karre wat opgeroes en verweer is. Die sondeval het merke op ons gelos. Merke wat getuig van ’n verlede van swak keuses en ongehoorsaamheid. Die opstanding van Christus het nie slegs die dood oorwin en ’n einde gebring aan die magte van die doderyk nie, maar dit het ons ook herskep. Deur Christus se opstanding is ons nuut gemaak. Soos wat ou meubels of karre se tekens van veroudering en verwering verwyder en vervang is met nuwe materiaal en nuwe verf, so het Christus se sterwe en opstanding ons ook nuut gemaak. Die lewe van vroeër met al die sonde en swakheid het verby gegaan. Die mag en gevolge van die sonde is verbreek en ons is nuut gemaak.

In Christus is ons nuut geskep om nuut te lewe en ons lewe te wy aan dit waarvoor ons bestem is. Ons is geskep met die doel en opdrag om God te verheerlik en as sy beelddraers te lewe. Deur die genade van Christus is die merke en gevolge van die sondeval verwyder. Ons is herskep om nuut te lewe.

Ons het egter die opdrag om as sout van die aarde en lig vir die wêreld nuwe inhoud en betekenis aan die lewe te gee. Deur ons moet die lewe nuut word. Ons moet Christus deur ons lewe sigbaar maak. Deur ons moet die wêreld sien en hoor dat die Here lewe. Nie slegs moet ons nuut lewe nie, maar die lewe moet nuut word.

Ons moet lewe as nuwe mense. Ons lewe moet getuig van Christus se lewe. Lewe nuut.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas