Matteus 11: 28-29

In ’n wêreld waar werk, verantwoordelikheid en druk konstante deel van ons lewens is, kan rus maklik agter gelaat word. Tog nooi die Here ons uit om rus te vind. Jesus sê in Matteus 11: 28-29: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en hulle sal rus kry vir julle gemoed.

Rus is nie net fisies nie maar ook geestelik. Ons vind ware vrede wanneer ons ons laste by die Here neerlê. Dit beteken nie dat ons probleme verdwyn nie, maar dat ons die Here se teenwoordigheid en krag ervaar te midde van ons omstandighede.

Om werklik te rus verg dat ons stil word, dat ons tyd opsy sit om ons te distansieer van die geraas van die wêreld en fokus op God se stem. Rus is nie ledigheid nie, dit is ’n aktiewe vertroue dat God in beheer is, self wanneer ons stil word. Dit gee ons die geleentheid om ons batterye vol te laai en met nuwe krag oor te begin.

Neem vandag tyd om te rus in God se teenwoordigheid. Sluit jou dagboek, skakel jou foon af, en luister na die Here. Onthou rus is ’n seëning en ’n noodsaaklikheid, nie ’n luukse nie.

Lees gerus: Gesang 580: Rus, my siel, jou God is Koning.

Rus, my siel, jou God is Koning,

oral voer Hy heerskappy.

Alles wissel hier op aarde,

onveranderlik is Hy.

Met die kom en gaan van jare

soos die deinings van die see,

wissel alles op die aarde

wissel mense waardes mee.

Elke mens soek na vervulling,

soek met ywer dag na dag,

maar die soeke bring geen rus nie

laat ons dus op Christus wag.

Rus, my siel, jou God is Koning,

leef tevrede uit sy hand;

wát ons tref in hierdie wêreld,

niks verbreek sy liefdesband.

Dr Antionette Janse van Rensburg, Universiteit van Pretoria / Montana