Numeri 11: 1-17
Aan die begin was almal tog te bly en dankbaar dat hulle weg is van die nare Egiptenare wat hulle so sleg behandel het en waar hulle maar gekrepeer het. Hoe langer die reis begin word het, hoe minder was hul opgewondenheid en later het die mense al hoe meer onrustig en gefrustreerd geword met die trek deur die woestyn. Moeilike omstandighede kan ’n mens se gesindheid verander. Die volk het begin om vir God te blameer en verwyt vir hul woestynomstandighede en die eentonige kos.
Moses hoor toe hoe die mense oor die kos kla. Moses kon nie meer die geklaery vat nie! Hy voel vasgevang tussen ’n groot groep mense wat gedurig kla en God. Hierdie is die dinge wat leierskap moeilik maak, ook in die kerk. Ons is almal sondaarmense wat as kerk bymekaarkom. Dalk is dit ’n groot wonderwerk om te onthou – dat ’n klomp mense met verskillende geaardhede en agtergronde saam kan kom rondom God se Woord. Die Here bind ons in liefde saam.
Die Here het Moses se moedeloosheid gehoor. Hy het geantwoord op Moses se versoek deur vir hom mense te gee wat hom kon help lei en die verantwoordelikheide dra. Die Here doen dit op ’n besonderse wyse. Hy laat die Gees op hierdie 70 manne kom, net soos wat dit met Moses gebeur het, wat wys dat God hulle gestuur het en dat die Gees hulle toerus vir hul werk as leiers in die volk.
Die Here se lankmoedigheid en genade word ook weer duidelik wanneer Hy selfs die volk se geklaery beantwoord. Die Here het toe vir hulle kwartels gestuur as vleis om te eet. God gee gehoor aan sy kinders. Maar hieraan is ook ’n waarskuwing verbonde, want hierdie verhaal wil nie vir ons wys dat ons alles gaan kry as ons aanhou kla nie. Die Israeliete het so baie kwartels gekry dat hulle daarvan ook moeg geraak het. Die Here hoor ons as ons Hom roep. Tog beteken dit nie dat ons hierdie voorreg moet misbruik soos die Israeliete nie.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp