Romeine 12: 4-6
Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam… (Rom 12: 4-5a).
Paulus leer ons dat die kerk soos ’n liggaam is. Een liggaam. Baie dele. Almal doen verskillende dinge. Wat inspirerend klink – totdat jy besef die milt wil preek, die pinkie bly homself met die oog vergelyk, en die elmboog is besig om ’n potgooi te begin. En tog, op een of ander manier, is dit God se ontwerp.
Omdat God in sy goddelike kreatiwiteit (en dalk goddelike sin vir humor) besluit het dat eenheid nie eenvormigheid is nie. In plaas daarvan het Hy ’n liggaam saamgestel wat bestaan uit introverte en ekstroverte, teoloë en tamboerynentoesiaste, sigbladheiliges en spontane bidders – en vir hulle gesê: Julle is een.
En net om die pot te roer, het Hy vir hulle verskillende gawes gegee. Onderrig. Dien. Bemoedig. Lei. Sommige kry wysheid, ander kry gasvryheid, en iemand kry altyd die gawe om laat op te daag.
Tog lyk God nie bekommerd nie.
Hy neem die hele deurmekaar groep – die mondige profete, die stil gewers, die administratiewe ninjas en hulle wat hande in die lug aanbid – en brei hulle saam tot iets wat werklik as ’n liggaam funksioneer.
Geen gawe is nutteloos nie. Geen lid is oortollig nie. Die kerk het nie ’n duisend regterhande nodig nie – dit het skouers, knieskywe, naeltjies en ’n paar mense nodig wat dit regtig geniet om ’n potjiekoskompetisie te organiseer.
En op een of ander manier, soos elke deel sy rol speel, beweeg die kerk vorentoe in eenheid – nie omdat almal dieselfde is nie, maar omdat God die liggaam bymekaar hou.
As jy dus uit jou plek voel, onthou: jy was nooit bedoel om iemand anders se gawe te wees nie. Wees net die jý wat God gemaak het, en vertrou dat in hierdie goddelike anatomieles, selfs die vreemde dele saak maak.
Ds Dawie Jacobs, Emeritus