2 Korintiërs 3: 1-6 (AFR2020)

Paulus begin hierdie gedeelte deur te reageer op twee aanklagte wat moontlik deur teenstanders in Korinte aan hom gerig is. Die een is dat hy homself aanprys en hovaardig is. Die ander een is dat hy nie met ’n aanbevelingsbrief of ’n getuigskrif gekom het soos waarmee baie rondreisende predikers gekom het nie. Van die predikers wat so rondgereis het en in verskillende dorpe gepreek het, wou die mense beïndruk met hul aanbevelingsbriewe en allerhande vermaaklikhede. Van hulle sou waarskynlik ook indrukwekkende getuigskrifte gehad het.

Aangesien Paulus nie met so ’n aanbevelingsbrief in Korinte aangekom het nie, het party miskien gewonder oor die geloofwaardigheid van Paulus. Daarom word hy aangevat, wat onnodig was, want die gemeente van Korinte was Paulus se hartskind.

Paulus se antwoord aan die Korintiërs klink so: Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.

Christengelowiges is die letters in Christus se brief omdat Hy deur sy kruisiging en opstanding ons van al ons sonde verlos word. Hierdie is wonderlike genade in elke Christengelowige se lewe: Ek is ’n letter in Christus se brief omdat Hy en Hy alleen my deur sy kruisiging en opstanding van sonde verlos het.

Om letters in Christus se brief te wees, gebeur nie vanself nie. Ons het die Heilige Gees nodig wat in ons werk. Ons het ook nodig om ons aan die Gees te onderwerp, sodat Hy ons gedagtes, woorde en ons dade beheers. Wanneer gelowiges en gemeentes deur die Gees beheers word, sal ons letters in Christus se brief wees wat helder en sterk van ons Verlosser vertel en geleef word.

Die Christengelowige wat deur die Heilige Gees so leef, wys letters van die lewe in Christus se brief.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth