Deuteronomium 6: 4-9
Ons gesin bly ’n hele entjie van die skool af en baie kosbare tyd word daagliks in die kar spandeer. Ek lees nou die dag dat ’n bekende skrywer van kar-kategismus praat. My kinders was baie verbaas toe ek hulle oortuig het dat kar-kategismus sy oorsprong in die Bybel het.
Deuteronomium 6: 4 en 5 lees: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gedeelte word die Sjema genoem. Die Hebreeuse woord Shema kan vertaal word met hoor of luister.
Die Shema is ’n gebed wat daagliks twee keer gebid is. Vir die Jode was die opdrag so belangrik dat hierdie woorde in ’n boksie (mezuzah) langs ’n deur gesit word om hulle aan die Shema te herinner elke keer as hulle by die deur ingaan. Deuteronomium 6: 7 gaan voort deur te sê: Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
Die doel van die Shema was onder andere om die goeie gewoonte van die oordenking van God se Woord in te skerp. Ons kan die alledaagse roetine van ons daaglikse lewe inspan om God se Woord te oordink en God altyd in ons kinders en gesinne se gedagtes te hou.
Reistyd is ook ’n wonderlike tyd vir gebed (solank jy net nie jou oë toemaak as jy bestuur nie!). In die Psalmboek is daar 15 gebede wat pelgrims gesing en gebid het terwyl die pelgrims Jerusalem toe gestap het. Hierdie pelgrimsliedere kan jou padkos word as jy in ’n verkeersknoop vassit of vir kinders by die skool sit en wag. Jou kar kan ’n ruimte van afsondering en gebed word. Dit kan ’n plek van gesprek word. Dit kan ’n plek word waar jy God ontmoet.
Skakel die radio af!
Ds Lydia Miller, Villiers