Lukas 17: 1-6

In ons wandel met die Here kom daar oomblikke wanneer die opdragte van Jesus ons oorweldig. Om nie ’n ander te laat struikel nie, om onophoudelik te vergewe, om met nederigheid te dien. Dit voel soms bo ons vuurmaakplek. Net soos die apostels roep ons partykeer uit: Here, gee ons meer geloof!

Jesus se antwoord verras. As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam (Luk 17: 6b). Jesus verwys na die kleinste saad wat ’n mens met die oog skaars kan sien en tog dra dit in hom alles wat nodig is om ’n groot boom te word wat ander kan beskut.

Met hierdie beeld sê Jesus vir ons: Geloof is nie ’n kwessie van hoeveelheid nie, maar van vertroue. God het uit genade aan elkeen van ons geloof geskenk. Dit is reeds in ons teenwoordig, waar dit groei deur die werking van die Heilige Gees. Ons hoef nie vir meer te vra nie; ons word opgeroep om te leef volgens die geloof wat ons reeds ontvang het.

Soos ’n saad in die grond geplant word om te groei, so moet ons geloof geleef en beoefen word. In gehoorsaamheid, vergifnis en liefde. Nie in eie krag nie, maar in vertroue op God se beloftes.

Onthou dit is nie die grootte van jou geloof nie, maar die grootheid van die God in wie jy glo. Gebruik die geloof wat jy het, al voel dit klein en broos.

Ons het nie méér geloof nodig nie, ons het ’n groot God nodig in wie ons die klein geloof wat ons het, met vrymoedigheid kan leef. Mag jou geloof, soos ’n mosterdsaadjie, in God se hand vrug dra tot sy eer. Mag elke gelowige bewus word daarvan dat ons die mosterdsaadgeloof reeds in ons dra, duur gekoop deur Christus aan die kruis. Vanuit daardie oorwinning kan ons elke dag met die Here waag en Hom vertrou vir die wonderwerk.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte