Johannes 16:  5-15

Ons leer regdeur die Bybel dat ons God mag vertrou. Ons vertrou God die Vader wat die heelal geskep het, wat sy volk laat vorm het. God wat sy volk, wat in Egipte slawe was, uit Egipte laat trek het en gebring het na hul eie land.

Ons vertrou Jesus wat vir ons gebore is. Die Christus wat vir ons sondes gesterf het en wat opgestaan het. Ons vertrou die Here sal weer kom.

Net so kan ons die Heilige Gees vertrou wat aan ons gegee is. Die Gees van die waarheid wat in ons woon en werk.

In die gedeelte wat ons saam gelees het, begin die Here Jesus om die dissipels voor te berei om te besef dat Hy nie altyd by hulle gaan wees nie. Die Here verduidelik dat wanneer Hy weggaan, sal Hy die Heilige Gees na hulle stuur.

Net soos wat die dissipels Jesus vertrou dat Hy die Gees na hulle sou stuur net so kan hulle die Heilige Gees vertrou.

Die Here leer die dissipels verder dat die Heilige Gees ook die Waarheid is en hulle in die waarheid sal lei. Die Gees van God werk nie op Sy eie nie, maar werk in verhouding met God die Vader en God die Seun.

Dit is duidelik vanuit die gedeelte dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees saam werk. God se Raadsplan word deur elkeen uitgeleef. Jesus vertrou die Gees van God volkome om sy werk uit te leef.

Ook ek en u kan vandag die Heilige Gees vertrou. Wanneer ons in verhouding met God leef, beleef ons elke dag die werking van sy Gees in ons lewens. Ons beleef hoe die Gees saam met God maar ook saam met ons leef. 

Gebed

Here dankie dat U aan my, my lewe gegee het. Help my asseblief dat ek U elke dag meer en meer mag vertrou. Amen. 

Ds Michael A Müller, Potchefstroom-Studente