2 Korintiërs 6: 1-13

Ek lees onlangs ’n opmerking oor karakter en reputasie en wat die verrassende verskil tussen die twee is. Karakter is wie jy is en reputasie is wie mense dink jy is. Dit is presies wat Paulus in 2 Korintiërs 6 aan die Gemeente Korinte verduidelik. Hy en die ander apostels is dienaars van God, dit is wie hulle is – hul karakter – maar dis nie wat die wêreld van hulle dink nie. Die valse apostels gee ’n wanvoorstelling van die apostels om gelowiges te mislei.

Paulus vertel van sy eie en sy medewerkers se ontberinge en verlies ter wille van hierdie boodskap om daardeur te bevestig dat dienswerk nooit alleen gedoen word nie. Hierin lê ’n waarheid wat vandag nog net so geld: die oortuiging en moed om op te staan teen ’n omgewing wat God nie ag nie en sy waardes nie respekteer nie.

Ons mag nooit die krag van God se genade in ons lewens en in ons omgewing onderskat nie. Ons ontvang nooit die genade van God verniet nie. Vir Paulus is dit duidelik dat God se genade in gelowiges en deur gelowiges uitgestort word om ’n vol lewe moontlik te maak selfs ten spyte van die swaarkry wat hulle beleef het.

Waar ’n gelowige as gevolg van omstandighede of teenstand ly, sien ons die innerlike krag wat net moontlik is deur die genade van God en die bystand van die Gees. Innerlike krag ontwikkel deur geduld toe te pas, verdraagsaam te wees, liefde te leef en die moed te hê om die waarheid te praat ten spyte van die nagevolge. Waar gelowiges geminag word, daar is dit duidelik dat hulle waardig is in God se oë. Waar gelowiges soos buitestaanders behandel word, daar sien ons hoe God hulle insluit in sy kring en in sy waarheid.

Jou karakter word gevorm deur die Gees se werking in jou. Dit hang beslis nie af van wat mense van jou dink of oor jou te sê het nie. Ons is in God se oë waardig en sy oordeel is die enigste een wat geld.

Ds Heloise Herbst, Rietvallei